Die veelparty ad hoc-komitee wat sal handel met die verslag van die Openbare Beskermer (OB) oor Nkandla moet dadelik met sy werksaamhede begin noudat die ANC uiteindelik sy sewe lede vir die komitee aangewys het, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Die OB het onder meer bevind dat die president en sy familie onregmatig baat gevind het by die opgraderings van 246 miljoen rand by sy privaatwoning.
Dr. Mulder sê die komitee, bestaande uit twaalf lede, se werksaamhede kan nie beperk word tot die antwoord van president Jacob Zuma op die verslag van die Openbare Beskermer (OB) oor die aangeleentheid nie.
“Dit sal geen doel dien nie en dit maak ook nie sin nie, aangesien die president geantwoord het deur te sê dat hy nie gaan antwoord nie. Die VF Plus is van mening dat die volledige verslag van die OB voor die ad hoc-komitee geplaas moet word.
“Die OB behoort eerste die geleentheid gegun te word om haar verslag toe te lig, waarna die president en sy betrokke minister die geleentheid moet kry om in hul getuienis voor die komitee hul optrede te verduidelik.
“Indien nodig moet die spertyd van die komitee verleng word na 5 Mei sodat opgemaak kan word vir die tyd wat die ANC verspil het met die aanwysing van sy sewe lede,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403