Die VF Plus verwelkom die hofuitspraak ten gunste van die drukgroep Freedom Under Law dat Richard Mdluli, die polisie se voormalige misdaad-intelligensiehoof, vervolg moet word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.
Dr. Groenewald sê Mdluli het as hoof van polisie-intelligensie Suid-Afrika baie skade berokken, en die laksheid van die minister van polisie om daadwerklik op te tree, word betreur.
“Weens hierdie gebrekkige optrede kon misdaad nie behoorlik bestry word nie omdat interne spanning by intelligensie onder Mdluli se bevel, ondersoeke gestrem het.
“Misdaadintelligensie is uiters belangrik om misdaad effektief te bestry en die VF Plus hoop dat die vervolging van Mdluli spoedig afgehandel sal word, aangesien die bestryding van misdaad ‘n prioriteit in Suid-Afrika behoort te wees,” sê dr. Groenewald.
Mdluli is destyds geskors na bewerings van bedrog en korrupsie, sowel as aanklagte wat verband gehou het met die moord op sy voormalige minnares se man.
'n Nadoodse ondersoek het egter bevind hy was nie betrokke by die man se dood nie en die aanklagte van bedrog en korrupsie is ook laat vaar.
Hy is heraangestel, maar is weer in 2012 geskors, hangende 'n hofaansoek van Freedom Under Law om die tersydestelling van die aanklagte teen hom te hersien.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403