Die DA het sy kiesers verraai en gaan hulle steun uitverkoop aan of die ANC of the EFF, indien die mediaberigte van die naweek waar is. Volgens die mediaberigte is die DA in gesprek met die ANC en EFF om, in ruil vir sleutelposisies, ‘n koalisie met een of albei van die partye aan te gaan na die verkiesing. Indien die DA wel in gesprek is met die ANC en die EFF om ‘n koalisie-regering te vorm, kan die DA nie meer daarop aanspraak maak dat hy ‘n opposisieparty is nie. Dit is ‘n party wat vir eie gewin met kiesers se steun handeldryf,” sê Anton Alberts, VF Plus-LP en premierskandidaat van die party in Gauteng.
“Die DA vra kiesers in Gauteng om vir die party te stem om so van die korrupte ANC-regering ontslae te raak, maar volgens berigte wat die DA nog nie ontken het nie, wil die DA ‘n koalisie met die ANC sluit. Dit kom daarop neer dat die DA nie meer ‘n opposisie is wat gekant is teen ‘n korrupte ANC-regering in Gauteng nie.
“Hierdie soort optrede van die DA is egter nie meer verbasend nie, gegewe die DA se verbeeldinglose navolging van ANC-beleid. Die DA steun die ANC in die parlement wanneer strenger swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie-maatreëls ingestel word. Die DA volg ook die ANC slaafs na waar die heropening van die grondeise-proses ter sprake is. Die DA se beleid is toenemend ononderskeibaar van die beleid van die ANC.
“Die vraag wat kiesers hulself moet afvra is hoe die DA daarop aanspraak kan maak dat hulle die ANC teenstaan in sake soos die instel van die e-tolstelsel, as hulle nou met die ANC onderhandel om ‘n koalisie te vorm in ruil vir sleutelposisies? Hoe kan die DA vertrou word om die vrye markstelsel in die ekonomiese hartland van die land, Gauteng, te beskerm as hulle in gesprekke is met die EFF, ‘n radikale anti-vryemark-party, om met hulle ‘n koalisie te vorm? Watter van die vryemark-beginsels sal die DA prysgee in ruil vir sleutelposisies?
“Die DA kan daarom nie die ANC van korrupsie beskuldig as die party self bereid is om kiesers se steun te bekom deur oneerlik te wees nie. Die DA vra kiesers om vir die party te stem en so die ANC af te dank en ‘n nuwe DA regering in Gauteng in te stel. Dit blyk egter nou dat die DA nie van plan is om toe te laat dat die ANC afgedank word nie, omdat hulle die ANC in ‘n koalisie sal terugbring. Kiesers wat van die ANC-regering in Gauteng ontslae wil raak, sal daarom hul stem vermors om vir die DA te stem omdat die DA die ANC aan bewind sal hou.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op kiesers om die DA by die stembus te straf en hul steun eerder aan ‘n ware opposisieparty, soos die VF Plus toe te sê. Die VF Plus, saam met sy koalisie-vennote in die Kollektief vir Demokrasie, se beleidstandpunte is bekend en sal nie prys gegee word in ruil vir sleutelposisie om individue te bevoordeel nie. Kiesers kan die VF Plus vertrou om hul belange in ‘n koalisie te beskerm terwyl die DA daardie belange van kiesers sal gebruik om vir enkele individue voordelige posisies te beding,” sê adv. Alberts.
Kontaknommer: 082 391 3117