Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mangaung vermors belastingbetalersgeld

Die VF Plus neem met kommer kennis van die balju se moontlike beslaglegging op die kantoorinhoud van die burgemeester en stadsbestuurder van die Mangaung-metroraad weens uitstaande skuld aan die maatskappy Razzmatazz Civil.

Dié maatskappy het ʼn hofbevel bekom weens die metro se versuim om sy rekening van R7 miljoen te vereffen vir herstelwerk aan Vereeniging-rylaan.

Razzmatazz het sonder sukses verskeie pogings aangewend om alternatiewe afbetalingsooreenkomste met die metro te bewerkstellig.

Meer as R1 miljoen van die R7 miljoen verskuldig is rente.

Hierdie geld kon aangewend gewees het vir broodnodige dienslewering, maar sal nou as ʼn vrugtelose uitgawe gelys moet word.

Die VF Plus dring daarop aan dat die waarnemende burgemeester, mnr. Gregory Nthatisis, en die waarnemende stadsbestuurder, me. Maureen Ntshudisane, ondersoek moet instel waarom die hoof finansiële beampte, me. Thami Sitishi, en die algemene bestuurder van regsdienste, me. Charlie Naido, nie kon toesien dat hofbevele oor die betaling nagekom is nie.

Daar moet streng opgetree word teen amptenare wat nie hul pligte nakom nie.

Die afgelope twee jaar ontduik amptenare aanspreeklikheid aangesien die meeste net waarneem in vakante poste.

Daar is nie meer plek vir enige vorm van verspilling nie en belastingbetalers het die reg om te verwag dat hul geld verantwoordelik bestuur word.

Die VF Plus sal aanhou om sy waghondfunksie te vervul en toesien dat amptenare verantwoordelik gehou word vir enige ongerymdhede en die versaking van hul pligte teenoor die inwoners van Mangaung.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.