Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit, mnr. Isaac Mokgatlhe, aangedring op onmiddelike optrede teen munisipale werkers wat onwettig staak en dienslewering in Zeerust en Groot Marico lamlê.
Vullis word nie verwyder nie en inwoners ly onder gereelde krag- en wateronderbrekings. Dit blyk duidelik dat die munisipaliteit geen voorgeskrewe gebeurlikheidsplan in plek het om noodsaaklike dienste te lewer in geval van arbeidsonrus by die munisipaliteit nie. Dit is onverskoonbaar.
Die werkers staak weens ‘n dispuut oor ‘n vroeëre kollektiewe ooreenkoms oor salarisse en posgraderings.
Hoewel billike arbeidspraktyke ‘n gegewe is en bevorder moet word, is onwettige optrede wat gemeenskappe ontwrig en in gevaar stel, totaal onaanvaarbaar.
Die VF Plus dring daarop aan dat die munisipale bestuur dringend stappe neem om noodsaaklike dienste te herstel. Dit is ook noodsaaklik dat dissipline en orde in die munisipaliteit herstel word.
Dit is ‘n skande dat die inwoners van Zeerust en Groot Marico voortdurend blootgestel word aan die gevolge van die onstabiliteit wat in dié ANC-geleide munisipaliteit heers.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir die herstel van ‘n professionele en stabiele munisipale administrasie in Ramotshere Moiloa.
Dit is belangrik dat kiesers in die komende plaaslike verkiesing met hul stemme seker maak dat dienslewering in Zeerust en Groot Marico herstel word.


