Die Stoffberg-duikweg in Brakpan het op 4 September weer oorstroom, skaars twee maande ná die heropening van die roete met herstelwerk wat as ’n permanente oplossing voorgehou is.
Dit wys dat die stormwaterstelsel ontoereikend is en dat dit sinneloos is om elke keer bloot die padoppervlak te herstel. Munisipale amptenare het reeds in April ’n verswakte stormwaterkanaal en verstopte drukverligtingsgate as die oorsaak van gereelde oorstromings geïdentifiseer.
Die aangekondigde herstelplan ná vorige stormskade het die skoonmaak, herstel van die dreineringstelsel, drukverligting en padherstelwerk ingesluit. Tog toon die jongste oorstroming dat die beloofde uitkoms nie bereik is nie.
Tydens ’n oorsigbesoek op 18 Augustus het die VF Plus reeds nuwe slaggate en krake in die padoppervlak waargeneem en gewaarsku dat water die swak plekke vinnig sou erodeer.
’n Omvattende skriftelike navraag hieroor aan die verantwoordelike burgemeesterskomiteelid en departementshoof het geen antwoord opgelewer nie. Ná die jongste oorstroming is die saak nou direk met die uitvoerende burgemeester en stadsbestuurder opgeneem.
Die VF Plus eis ’n onafhanklike ingenieursondersoek na die stormwaterkanaal, dreineringslyne, drukverligtingsmeganismes en padstruktuur.
Die metro moet die kontrakteur se naam, kontrakwaarde, toetsuitslae en voltooiingsertifikate bekend maak. Waar gebrekkige werk bevestig word, moet dit op die kontrakteur se koste reggestel word en geen verdere betalings mag vrygestel word sonder onafhanklike goedkeuring nie.
Die duikweg is ’n hoofroete wat gemeenskappe verbind en elke onnodige sluiting benadeel inwoners, ondernemings en noodverkeer ernstig. Die VF Plus sal die aangeleentheid aanhou dryf totdat dit reggestel is.
Inwoners kan op 4 November vir die VF Plus stem wat sal toesien dat die metro verantwoordelik bestuur word en belastingbetalers se geld nie vermors word met onbevoegde optrede soos hierdie nie.


