fbpx
Vryheidsfront Plus

Mangaung-metroraad gaan onbesonne skuld aan

Die Vryheidsfront Plus het vandag tydens ‘n spesiale raadsvergadering van die Mangaung-metroraad teen die besluit om R500 miljoen te leen gestem.

Die besluit is geneem sonder dat die metroraad self oor die spesifieke lening kon stem, maar daar is eerder wye magte aan die uitvoerende burgemeester en amptenare gegee om die lening aan te gaan.

Indien die betrokke lening aangegaan word, styg die totale leningskuld van die metro tot R774 miljoen.

Die lening word aangegaan om infrastruktuurprojekte te finansier, maar geen aanduidings word gegee of enige voorwaardelike toekennings vanaf nasionale tesourie beskikbaar sal wees vir hierdie projekte nie.

Die VF Plus is ten gunste van infrastruktuurontwikkeling, maar nie waar dit die belastingbetaler buitensporig duur gaan kos nie aangesien die terugbetaling van die lening en die gepaardgaande rente beslis tariefverhogings gaan noodsaak.

Die nasionale tesourie bevraagteken ook die lening van R500 miljoen aangesien dit die finansiële gesondheid van die metro verder destabiliseer omdat dit die munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid en likwiditeit bedreig.

Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering hierdie besluit gestoomroller het en in werklikheid vir die burgemeester en haar amptenare volmag gegee het om die lening aan te gaan sonder enige bepalings, besonderhede en voorwaardes. Dit getuig van swak finansiële bestuur en is die rede waarom munisipaliteite in Suid-Afrika finansieel onvolhoubaar is. Dienslewering ly as gevolg van hierdie tipe onbesonne besluite en swak prioriteite.

Die VF Plus is van mening dat die metro moet fokus op die invordering van debiteure en die uitdelging van korrupsie en uitbuiting wat die metro miljoene kos. Sodoende sal dit nie nodig wees om hierdie buitensporige hoë lenings aan te gaan om infrastruktuurprojekte te finansier nie.

 

Dr. Elizabeth Snyman-van Deventer

082 305 1540 / 072 997 8315

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.