Julius Malema is besig om rassehaat aan te blaas met sy uitlatings oor grond wat hy vandag in Newcastle na sy hofverskyning gemaak het, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus.
Deur mense aan te moedig om onwettig grond te beset, maak Malema homself net so skuldig as diegene wat onwettig optree en die wette van die land verbreek, sê dr. Groenewald.
Hy sê die VF Plus sal om hierdie redes ‘n klag indien by die parlement se etiek-komitee teen Malema oor die feit dat hy die ampseed wat hy by die parlement afgelê het, verbreek.
“Die ampseed (bylae 2 van die Grondwet) bepaal duidelik dat lede van die parlement onderneem om die volgende te doen: “die Grondwet en die ander reg van die republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, en onderhou”.
“Daar is geen twyfel nie dat Malema met sy optrede hierdie onderneming met sy aanhitsing verbreek.
“Malema se uitlatings vandag wat lui: ‘we are not calling for the slaughtering of whites, at least not for now’ is haatspraak en daarmee sê Malema dat daar ‘n tyd kan kom dat hy swart mense wel sal vra om wittes uit te moor.
“Dit is rassehaat en skep die potensiaal van ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika. Malema en die EFF moet kennis neem dat wit grondeienaars nie net gedweë sal sit en toekyk hoe hul grond beset en afgeneem word nie.
“Op die einde sal Malema die volle verantwoordelikheid moet neem vir die konflik wat hy besig is om te stook oor grond in Suid-Afrika. Wit grondeienaars het gewerk vir hul eiendom en het dit regmatig bekom en is daarom geregtig op hul eiendom,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403