Tydens die pas afgelope raadsvergadering van die Mangaung-metro-munisipaliteit het die burgemeester, Olly Mlamleli, nie net die raad mislei nie, maar ook inwoners en die administratiewe taakspan wat aangewys is om die munisipaliteit se funksionaliteit te herstel.
Met die burgemeester se repliek op die mosie van wantroue het sy onder andere genoem dat munisipale komitees (Artikel 80-komitees) gereeld sit en funksioneel is. Munisipale komitees is egter feitlik tot niet.
Die enigste twee komitees wat ‘gereeld’ sit is die munisipale openbare rekeninge- en finansiële komitees. Sedert Mei 2019 het die infrastruktuur- en korporatiewe dienstekomitees nie gesit nie wat ‘n bydraende faktor tot die algehele agteruitgang van die metro is. Dit neem die metro ongeveer 142 dae om diensverkaffers te betaal en infrastruktuur soos paaie en stormwaterstelsels word nie in stand gehou of ontwikkel nie.
Daar is voortgegaan om te stem oor die mosie van wantroue in Mlamleli ná haar repliek.
Die burgemeester versuim om haar pligte na te kom, het doelbewus die raad mislei en verdien dus om uit haar posisie verwyder te word. Deur toe te laat dat hierdie komitees nie ten minste kwartaalliks sit nie, gee sy opposisiepartye nie die geleentheid om voldoende insette te lewer in die bestuur van die metro nie.
Die VF Plus is teleurgesteld dat die mosie van wantroue nie geslaag het nie, maar sal aanhou om voortdurend druk op die topbestuur van die metro te plaas om dienslewering te eis.
Kontaknommer: 064 847 1560