Die VF Plus is bekommerd dat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, en sy departement nog geen amptelike inligting vrygestel het om skole te bemagtig met 'n noodplan rakende die Koronavirus nie. Die party doen ‘n beroep op Lesufi om onmiddellik ‘n protokol vry te stel wat leerlinge en onderwysers sal beskerm.
Teen die agtergrond van die verspreiding van die koronavirus wêreldwyd asook nou in Suid-Afrika, en die verklaring daarvan as 'n amptelike pandemie deur die Wêreld-gesondheidsorganisasie, het 'n skool in Gauteng en die Wes-Kaap alreeds tydelik gesluit. Verskeie ander skole in die Wes-Kaap beplan ook om te sluit.
Skole is ongelukkig soos enige plek van saamtrek vatbaar vir die verspreiding van die virus. Daarom moet skole bemagtig word met inligting deur die regering wat hulle in staat stel om die infiltrasie van die virus sover moontlik te bekamp en om op te tree in die geval van die verspreiding van die virus in skole. Tot dusver is daar geen blyke van amptelike inligting in die verband afkomstig van Lesufi en sy departement nie.
Trouens wat baie kommerwekkend is, is dat die departement se webwerf geen melding van die gevare van die virus maak nie. Daar bestaan selfs 'n skakel op die webwerf getiteld "Warnings" waarvan die enigste inhoud die volgende sin is: "There are no warnings for this department". Die skakel na die webwerf is as volg: https://www.gauteng.gov.za/Departments/DepartmentWarningList?departmentId=CPM-001004
Dit is uiters kommerwekkend en dui op die laksheid van die Gautengse departement van onderwys om leerlinge veilig te hou. Die tendens kon alreeds waargeneem word met die Hoërskool Driehoek-tragedie en die gevolglike openbaring van die swak onderhoud van talle openbare skole se infrastruktuur.
Die Skolewet maak dit duidelik dat die staat – en dus die LUR en sy departement – aanspreeklik is vir die veiligheid van skole en leerlinge en daarom sal Lesufi die verantwoordelikheid moet neem rakende die krisis om skole na behore teen die koronavirus te beskerm.
Aangesien nog geen stappe geneem is nie, sal die VF Plus 'n skrywe in die verband aan Lesufi rig om onmiddellik op te tree.
Kontaknommer: 071 604 9498