fbpx
Vryheidsfront Plus

Makhura skep ‘n vals prentjie oor die 2015/16 finansies in Gauteng

Die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, se aankondiging gister in Soweto dat die Gautengse regering die beste gevaar het in 13 jaar tydens die 2015/16 boekjaar, is eintlik die skep van 'n vals prentjie om die ANC in Gauteng te laat goed lyk na die groot nederlaag wat die party in die afgelope munisipale verkiesing in die provinsie gely het.

Die VF Plus in Gauteng het in reaksie hierop gesê dat, indien al Gauteng se finansies in orde was, daar nie massiewe probleme sou bestaan het by die departement van Onderwys, Gesondheid, Behuising, Vervoer, Infrastruktuur Ontwikkeling en vele ander departemente nie.

Daar bestaan slegs 2922 skole wat 2 433 342 leerlinge moet huisves met slegs 85 272 onderwysers. Verder betaal 1 231 673 leerlinge nie vir onderwys in die provinsie nie en is aangewese op hulp van die provinsie. In die departement van Behuising is ook 'n groot krisis aangesien die behuisingsagterstand net groter word en die departement net daarin kon slaag om in 2015/16 22 150 nuwe huise te bou. In die begin van 2015 was die agterstand reeds 800 000 huise gewees. Die departement van Behuising het ook tydens hierdie boekjaar onderspandeer met 'n massiewe bedrag van R980 miljoen. Dit is duidelik dat hierdie departement glad nie presteer het nie. Intussen is 'n nuwe LUR, Paul Mashatile, aangestel om die krisis te probeer uitsorteer.

In die departement van Vervoer het dit verlede week in 'n komiteesitting aan die lig gekom dat hierdie departement ook in 'n krisis is aangesien die departement sy toegekende begroting sommer in die middel van die finansiële jaar self aangepas het om te probeer gate toestop. Daarby word daar tans nuwe toetsstasies en bestuurderslisensie-kantore opgerig maar daar kan nie duidelikheid gegee word oor wanneer die stasies operasioneel gaan wees nie. Die VF Plus het reeds in die komitee verlede week gewaarsku dat die Gautrein al entiteit van die departement is wat goed vaar en dit is dus daarom dat die departement se beeld nog goed lyk na buite.

By die departement van Infrastruktuur Ontwikkeling is alles ook nie pluis nie. Die LUR het reeds hierdie week aangekondig dat nuwe planne in plek gestel gaan word om diensverskaffers vinniger te betaal. Diensverskaffers moes maar altyd geduldig gewag het vir uitbetalings vanaf die provinsie en 'n gewone 30-dae rekening het tot twee jaar geneem om uit te betaal. Dit het tot gevolg gehad dat baie besighede wat in kontrak met die provinsie was maar hul deure moes sluit. Die LUR wil betalings nou binne 15 dae afhandel.

Wat die departement van Gesondheid betref is alles nog glad nie in orde nie. Die departement het sedert 2010 tot in die 2015/16 boekjaar R540 miljoen uitbetaal aan skikkings wat deur die howe gelas is, waarvan 8 sake buite die hof geskik is en 168 sake in die hof deur die departement verloor is. Dan hang die swaard ook nog oor die kop van die vorige LUR van Gesondheid, Brian Hlongwa, wat by 'n skandaal van miljoene betrek is in die departement en die ondersoeke en hofsake teen Hlongwa duur nog voort. Hospitale en klinieke in die provinsie is nog in groot chaos en glad nie op standaard nie.

Die VF Plus in Gauteng het die hoop uitgespreek dat die 2016/17 finansiële boekjaar beter sal vaar as die 2015/16 boekjaar en dat die geld wat bewillig is vir die bogenoemde departemente wel goed en ten volle aangewend sal word.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, is ook van mening dat die premier nou na iets moet gryp om die beskadigde beeld van die ANC in Gauteng te probeer herstel.

 

Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410

epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.