fbpx
Vryheidsfront Plus

Zuma se nuwe greep op staatsbeheerde entiteite is kommerwekkend

‘n Nuwe liggaam wat pres. Jacob Zuma ‘n groot houvas op staatsbeheerde entiteite gaan gee en wat aangestel gaan word oor die huidige soortgelyke liggaam onder adjunkpresident Cyril Ramaphosa, is uiters kommerwekkend, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Min. Jeff Radebe, minister in die presidensie, het gister bekend gemaak die nuwe liggaam, die Presidensiële Koördinerende Raad vir Staatsbeheerde Entiteite (PKRSE) met pres. Zuma in beheer, is geskep om die land se ekonomie ‘n ‘hupstoot’ te gee.

Die soortgelyke liggaam wat tans onder adjunkpresident Ramaphosa se beheer is, is die Presidensiële Infrastruktuur-koördineringskommissie (PIKK).

Adv. Alberts sê die VF Plus vind dit vreemd dat die president die nuwe liggaam gaan lei. Hy sê gegewe die bekendheid van die ANC, en in besonder pres. Zuma om kontrakte aan familie en vriende uit te deel, en gegewe die feit dat daar reeds ‘n soortgelyke liggaam bestaan, moet die skuif die rooi ligte laat aangaan.

“Dit skep die indruk dat pres. Zuma hom posisioneer om die maksimum finansiële voordele vir hom en sy familie te verseker voordat sy termyn verstryk.

“Gegewe die groeiende moontlikheid dat die opposisie provinsies en selfs die nasionale regering in 2019 of daarna kan oorneem, wil dit voorkom of Zuma en sy ANC-kaders hulself finaal ingrawe om die maksimum uit die staatskas te tap voordat die krane toegedraai word.

“Die president kan veel beter doen deur eerder vertroue by die sakesektor in te boesem om die ekonomie sodoende te laat groei. Ons weet egter die ANC is tans ‘n bloedsuier-instansie wat nie gaan verander nie.

“Die VF Plus sal vrae in die parlement rig rakende pres. Zuma se magte met betrekking tot die nuwe liggaam om kontrakte met staatsbeheerde entiteite te manipuleer, hetsy direk of indirek,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.