fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC verdeel oor SAUK-probleme

Dit is duidelik die ANC is intern verdeeld oor hoe die huidige probleme by die SABC hanteer moet word, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dit blyk nadat mnr. Gwede Mantashe, sekretaris–generaal van die ANC, hom onlangs duidelik uitgelaat het oor die SAUK se probleme en gesê het dat ingryping dringend nodig is. Daarop het die ANC-lede in die parlementêre portefeuljekomitee by ‘n vorige vergadering ingestem dat ‘n ondersoek na die SAUK se probleme nodig is.

By vandag (Dinsdag 23 Augustus) se portefeuljekomitee-vergadering het die minister al die besluite van die SAUK-raad verdedig en het mnr. Hlaudi Motsoeneng en die ANC-lede van die komitee omgespring en verklaar dat geen ondersoek nodig is nie.

Volgens dr. Mulder is die VF Plus se vraag oor die rol van die SAUK ook onbevredigend beantwoord. Dr. Mulder wou weet of die SAUK sy rol sien as ‘n regeringsuitsaaier of ‘n openbare uitsaaier.

Dr. Mulder sê uit die afdanking van agt joernaliste by die SAUK en die bedanking van mnr. Jimmi Matthews is dit duidelik dat daar groot sensuur by die SAUK se nuusdienste ten gunste van die regering toegepas word.

Volgens dr. Mulder word alle Suid-Afrikaners verplig om lisensiegeld te betaal en spel die Uitsaaiwet dit uit dat die SAUK ‘n openbare uitsaaier in belang van al Suid-Afrika se mense moet wees, en nie ‘n regeringsuitsaaier in belang van die ANC nie.

“Daar behoort ‘n ondersoek na die rol en finansiering van die SAUK te kom ten einde die presiese rol en plek van die SAUK te bepaal. Dit is duidelik dat die raadslede en bestuur van die SAUK hul rol verkeerd verstaan.

“Die SAUK behoort nie aan die SAUK-raad of aan die minister of aan mnr. Hlaudi Motsoeneng nie maar aan al Suid-Afrika se mense,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.