Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Makhura moet ingryp by geweld in Pretoria

Die VF Plus doen 'n ernstige beroep op die premier van Gauteng, David Makhura, om daadwerklik in te gryp by die geweld wat sedert die afgelope Sondag in Pretoria woed en onskuldige mense se lewens in gevaar stel.

Die geweld het vanoggend uitgebrei na die westelike, noordelike en oostelike dele van die stad nadat die ANC die afgelope Saterdag deur Luthuli-huis aangekondig het dat Ramakgopa nie meer die burgemeesterskandidaat in Pretoria gaan wees nie. Inwoners in dié gebiede is in hul huise vasgevang en skole in die weste van die stad het noodgedwonge gesluit. Paaie en toegangsroetes is ook gesluit.

Die VF Plus se LPW in Gauteng en inwoner van Pretoria, mnr. Philip van Staden, het gesê dat die VF Plus reeds al in Februarie vanjaar die premier versoek het om ‘n noodtoestand in Gauteng af te kondig maar dit het op dowe ore geval. In Maart het die VF Plus 'n dringende gesprek met Makhura aangevra oor die geweld maar tot op hede het die premier nog nie op die versoek gereageer nie.

"Inwoners van Pretoria en Gauteng gaan nie langer toelaat dat ANC-politiek en wanorde ons gyselaars gaan hou in ons eie huise nie. Die VF Plus doen 'n beroep op gemeenskappe en sektor-polisiëring om daadwerklik te reorganiseer en op te tree om wet en orde toe te pas en gemeenskappe moet mobiliseer om hulself te beveilig.”

Die VF Plus dring daarop aan dat Makhura en Luthuli-huis hierdie ANC oproeriges moet vasvat en die veiligheidsmagte en onluste-eenhede moet nou daadwerklik ingryp.

Brande is so pas in die weste van Pretoria gestig en die Daspoort-tonnel is reeds met petrolbomme bestook.

"Indien die situasie nie ontlont en onder beheer gebring word nie, hou die VF Plus vir Makhura en die ANC persoonlik aanspreeklik vir enige skade wat aan infrastrukture en privaat eiendom aangerig word".

 

Philip van Staden

VF Plus LPW Gauteng

Tel: 0840154722 of 011-498 5477

epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.