In stede daarvan om ANC-betrokkenheid by die geweld in Tshwane te ontken, moet Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, onmiddellik ingryp om ontevredenheid oor die burgemeesterskandidaat uit die weg te ruim, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-LP en leier in Gauteng.
Adv. Alberts sê die ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweldpleging en moet sy lede onverwyld in bedwang bring aangesien die beelde van oproer en brandstigting die wêreld ingestuur word en Suid-Afrika se beeld in die buiteland groot skade berokken.
“Dit is ‘n skreiende skande dat Mantashe ontken dat ANC-lede ‘n aandeel het in die oproer. Net soos Hlaudi Motsoeneng, wat ontken dat daar diensleweringsprobleme in die land is, leef Mantashe klaarblyklik ook in ‘n staat van totale ontkenning van die werklikheid.
“Dit is ook duidelik dat Motsoeneng se besluit om nie geweld oor die SAUK uit te saai nie en nou ook oor die Tshwane-geweld geen nuusdekking te verleen nie, oënskynlik geen indruk op die onrusstokers maak nie.
“Hierdie ontkenning van die werklikheid is die eerste duidelike tekens dat die ANC die begin van sy einde bereik het. Enige party wat uit voeling met die werklikheid raak gaan uit hoofde hiervan besluite neem wat sy einde gaan bespoedig,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403