Die stortingsterrein op Frankfort in die Mafube-plaaslike munisipaliteit hou ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners in. Ingevolge die Afvalbestuurswet voldoen dié stortingsterrein nie aan die nasionale minimumvereistes nie en word boonop sonder die nodige lisensie bedryf.
Die gebied waarin die stortingsterrein geleë is, was voorheen ‘n steengroef waaruit dolomietgesteentes gegrawe is.
Die poreusheid van dolomietgrond veroorsaak dat besoedelde reënwater direk in die Wilgerivier afloop. Die Wilgerivier, wat duisende mense en diere van water voorsien, loop in die Vaaldam, wat op sy beurt weer bykans die hele Gauteng van water voorsien.
Swak toegangsbeheer, sekuriteit en regulasie rondom die stortingsterrein, veroorsaak dat vullis gestort word in ‘n gebied van langer as ‘n kilometer.
Die munisipaliteit kan geen vullisverwyderingsdienste aan inwoners bied nie, aangesien die munisipaliteit nie ‘n enkele voertuig besit nie. Die VF Plus beskou dit as onaanvaarbaar dat inwoners moet betaal vir dienste soos vullisverwydering, maar dit nie ontvang nie.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die LUR vir kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Makalo Mohale, amptelik versoek dat die departement op provinsiale vlak ingryp aangesien die Mafube-plaaslike munisipaliteit keer op keer wys dat hy nie daartoe in staat is om aan wetlike vereistes en voorskrifte te voldoen nie.
Navrae: 079 517 8059