Volgens die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag vir die 2018/2019-boekjaar is die gevolge van die kultuur van korrupsie- en wanbestuur van die ANC-regering duidelik sigbaar in die Vrystaat.
Die OG is van mening dat die Vrystaatse munisipaliteite swak vaar weens die ‘doelbewuste gebrek aan verantwoordbaarheid deur politieke en administratiewe leierskap’. Geeneen van die munisipaliteite het ‘n skoon ouditverslag ontvang nie.
Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit is een van die top drie-bydraende munisipaliteite tot Eskom-skuld. Die Mangaung-metro, wat die ekonomiese sentrum van die Vrystaat is, is deel van die top-vyf bydraers tot jaarlikse onreëlmatige uitgawes oor ‘n tydperk van drie jaar.
Luidens die verslag het agt Vrystaatse munisipaliteite (Matjhabeng, Masilonyana, Tokologo, Kopanong, Mafube, Maluti-a-Phofung, Mantsopa en Phumelela) versuim om finansiële state in te dien. Die geheelbeeld van die stand van die provinsie is dus veel erger as wat inwoners besef.
‘n Groter bekommernis is die enorme bedrae wat vir die voorbereiding van hierdie state aan konsultante betaal is. Die belastingbetaler het sowat R46 miljoen opgedok vir die gebruik van konsultante as gevolg van die onbevoegdheid van bestaande personeel wat deur regstellende aksie aangestel is. Inwoners moet dus dubbel vir hierdie dienste betaal.
Die oudit-uitkomste getuig van die regering se ongeërgdheid ten opsigte van die gevolge van wanbestuur. Die ANC tree slegs op teen onbevoegde amptenary wanneer daar faksie-gevegte binne die party ontstaan en nie wanneer munisipaliteite ooglopend in die grond in bestuur word nie.
Die VF Plus dring daarop aan dat amptenare wat hulself skuldig maak aan oortredings, strafregtelik vervolg word en sal die OG amptelik versoek om binne sy magte, soos per die gewysigde Openbare Ouditwet, op te tree waar munisipale rade versuim om op te tree.
Navrae: 084 206 3375