Die VF Plus is bewus van die vele klagtes wat instroom vanaf inwoners in die Makhado-plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) rondom die water- en rioolkrisis en is tans op dié dorp met ‘n oorsigbesoek.
Rioolwater vloei regdeur huise en tuine, mangate is verstop en van dienslewering is daar nie sprake nie.
Die gemeenskap het die situasie al verskeie kere sonder sukses by die menseregtekommissie (MRK) aangemeld.
Die VF Plus het reeds in Oktober 2022 ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, me. Tshimangadzo Ndou asook Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Baisikopo Makamu, om dadelik ‘n aksieplan saam te stel om die waterkrisis op te los.
Geen samewerking in hierdie verband het gerealiseer nie en geen poging tot effektiewe kommunikasie is aangewend nie. Dit bewys dat die politieke wil om dienslewering te verbeter, duidelik ontbreek.
Die VF Plus se aksiestappe tans behels onder meer om Louis Trichardt se water- en rioolprobleme te eskaleer tot provinsiale- en nasionale vlak weens die Vhembe-distriksmunisipaliteit se versuim om lekkasies te herstel en verouderde water- en rioolinfrastruktuur te vervang en te onderhou.
Die VF Plus eis ook dat die premier, Stanley Mathabatha, 'n dringende ondersoek na hierdie saak van stapel stuur.
Daar moet ‘n geskrewe plan van aksie opgestel word om die krisis op dringend op kort- en langtermyn oplossing te vind.
Die VF Plus het die saak ook na die party se parlementslid vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) mnr. Michal Groenewald, verwys om die saak in die parlement se Cogta-komitee te hanteer.
Inwoners se menseregte word geskend deur 'n gebrek aan water en 'n skoon omgewing en indien ’n cholera-uitbreking plaasvind, sal die VF Plus alle betrokke departemente aanspreeklik hou.
Die VF Plus dring aan op antwoorde en daadwerklike optrede.
Louis Trichardt verdien beter as die ANC.