Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Limpopo-wetgewer vermors R1,8 miljoen weens een amptenaar se arrogansie

Die VF Plus eis antwoorde en verantwoordelikheid van die Limpopo-wetgewer se vermorsing van R1,8 miljoen aan drie vlugte en verblyf vir ʼn afvaardiging van die provinsie na ʼn sitting van die Statebondsparlement in Banjul, Gambiё.

Hierdie vermorsing is volgens die VF Plus weens die opgeblase ego van die sekretaris van die wetgewer, Timothy Maake, se beweerde aandrang dat sy titel as “Dr.” op vlugkaartjies moes verskyn.

Luidens ‘n berig in City Press het Maake daarop aangedring dat sy akademiese titel “Dr.” en nie “Mnr.” op vliegtuigkaartjies aangebring word. Dit het gelei tot ‘n onnodige uitgawe wat uit nie-terugbetaalbare Qatar Airways-vlugte en verblyf in vier verskillende stede bestaan.

Die eerste twee vlugkaartjies is gekanselleer omdat Qatar Airways akademiese titels soos “Dr.” nie op vliegtuigkaartjies toelaat nie, onder meer om misverstande met mediese dokters tydens noodgevalle te vermy.

Die derde bespreking, wat R800 000 beloop het, het gelei tot ‘n uitputtende 39-uur reis via Doha, met ‘n oornagverblyf in Casablanca, waar die afvaardiging gedwing was om op die lughawe te slaap weens laaste-minuut visumprobleme.

Die geld wat in Casablanca vir verblyf opgedok is, is ook verbeur.

Die VF Plus dring daarop aan dat Maake onmiddellik verantwoording doen oor hierdie vermorsing van belastingbetalersgeld en dat ʼn volledige verslag hieroor aan die wetgewer voorgelê word.

Maake moet ook persoonlik aanspreeklik gehou word vir die R1,8 miljoen aangesien sy arrogansie tot hierdie vermorsing aanleiding gegee het.

Belastingbetalers kan nie langer opdok vir amptenare se onredelike eise nie, veral nie in ʼn provinsie waar basiese dienslewering bloot op papier bestaan nie.

Die VF Plus sal voortgaan om druk uit te oefen vir aanspreeklikheid en dat openbare fondse tot voordeel van die provinsie se inwoners aangewend word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.