Die VF Plus steun ontwikkelings en beleggings om kapitaal en werksgeleenthede terug na die land se hoofstad te lok, maar sal nie met gevoude arms toekyk hoe die Tshwane-metro se begrotingsbeperkings dié ontwikkelings belemmer nie.
Luidens ’n verslag van die oorsigkomitee vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning raak die metro toenemend afhanklik van die privaatsektor vir strategiese stedelike ontwikkelings, maar dat die metro nie oor voldoende kapasiteit beskik om grootmaatdienste soos krag, water, riool en paaie te verskaf nie. As ooreenkomste nie deeglik gestruktureer is nie, loop die metro boonop die risiko om onvoorsiene kostes te dra.
Die ouditeur-generaal (OG) het ook by verskeie geleenthede uitgewys dat daar die afgelope dekade geen herbelegging in die verouderde infrastruktuur plaasgevind het nie. Die metro se ingenieursdepartement beskik ook nie oor ‘n voldoende begroting om die vereiste grootmaatdienste vir nuwe uitbreidings te verskaf nie. Dit sluit elektrisiteit- en watervoorsieningsdienste, riolering, paaie en voorsiening vir stormwater in.
Dié beperkings lei nie net tot uitstel in die goedkeuring van nuwe ontwikkelings nie, maar vertraag ook die inkomste uit tariewe, belasting en diensgeld wat uit dié nuwe ontwikkelings moet voortvloei.
Onvoldoende infrastruktuur kan ook tot gevolg hê dat ontwikkelaars kies om elders te belê, wat tot verlore ekonomiese groei en werkskepping lei. In gevalle waar grootmaatdienste reaktief gelewer word, jaag dit die koste onnodig op.
Die VF Plus sal voortgaan om die nodige sterk oorsigrol te speel om geordende ontwikkeling tot die Tshwane-metro se voordeel daar te stel.
Die metro kan eenvoudig nie bekostig dat ontwikkelaars se projekte sloer terwyl daar gewag word vir strategiese infrastruktuur-ontwikkeling wat reeds in plek moes gewees het nie.


