Die verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) oor korrupsie by die Tembisa-hospitaal is ‘n bewys van hoe diep korrupsie binne in gesondheidsdepartemente gesetel is en hoe dit die publiek van effektiewe gesondheidsorg ontneem.
Die verslag, wat vandag deur die SOE uitgereik is, toon aan hoe sowat R2 miljard wat bedoel was vir gesondheidsorg, geplunder en gesteel is deur ‘n web van bedrog en korrupsie.
Alhoewel die tussentydse verslag aantoon hoe kompleks die ondersoek is en dat verdere ondersoek gedoen moet word, belig dit wel duidelike onreëlmatighede, bedrieglike aktiwiteite en korrupsie deur amptenare en diensverskaffers.
Die VF Plus het nog altyd gewaarsku dat wanbestuur, korrupsie en wanadministrasie die kanker is wat openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika vernietig het en dat die oortreders in hegtenis geneem en opgesluit moet word indien hulle skuldig is.
Sindikate is die enigste wat voordeel uit hierdie korrupte aktiwiteite trek – dit terwyl mense in openbare hospitale sterf weens vele tekorte in die sektor wat tot gevolg het dat swak of geen diens gelewer word nie.
Die VF Plus se verslag oor die stand van openbare hospitale in die land wat in November 2023 uitgereik is, het juis hierdie probleme na vore gebring en die verval van die openbare stelsel deeglik uitgewys.
Mense soos Babita Deokaran wat die bedrog by Tembisa-hospitaal openbaar het, het in 2021 met haar lewe daarvoor betaal.
Die VF Plus spreek die hoop uit dat hierdie ondersoeke behoorlik afgehandel word en dat oortreders boet vir hul dade. Die party sal sake oor hierdie aangeleentheid verder fyn dophou.
Vir te lank het die land in wetteloosheid verval en die tyd het aangebreek dat wet en orde weer herstel word.


