Wêreldtoerismedag in Suid-Afrika is vanjaar amptelik gevier op Constitutional Hill, die tuiste van die Grondwethof, as simboliese oproep tot ware verantwoordbaarheid in die toerismesektor.
Die ironie van dié dag was die tema; “Toerisme en Volhoubare Transformasie”. Die realiteit is dat die departement self nie besig is om in die regte rigting te transformeer nie.
Dit blyk uit onlangse mislukkings en skandale soos die skorsing van die toerismeraad se hoof uitvoerende beampte, me. Nombulelo Guliwe, weens beskuldigings van wangedrag.
Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het die skorsing as onwettig beskryf weens bestuursprobleme, en die raad is kort daarna ontbind.
Toerisme in Suid-Afrika sukkel verder weens verskeie redes. Enkele hiervan is die hoë misdaadsyfers en gepaardgaande veiligheidsrisiko’s terwyl vlugbeperkings verdere druk op toerismegroei plaas.
Die feit dat die land se toerisme nog nie eens volledig herstel het na die 2019-vlakke van voor Covid-19 nie, wys hoe beroerd dit met dié sektor gaan.
Die VF Plus het die departement se viering by Constitutional Hill bygewoon waar die departement soos by ander plekke soos museums poog om deur uitstallings en bewusmaking die waarde van menseregte, demokrasie en versoening uit te beeld as gedeelde erfenis.
Min. De Lille het op die gronde van die Ou Tronk, ’n oproep op internasionale beleggers gemaak om die bedryf te help en het gewys op die groot invloed wat toerisme kan hê op die land se voorspoed.
Vir die VF Plus was die perseel die gepaste plek om die dag aan te bied, gegewe die probleme in die sektor.
Die minister se retoriek oor volhoubare transformasie en groei sonder bewese verantwoordbaarheid en integriteit het net so leeg en hol geklink soos ’n sleutel in die deur van ’n leë tronksel.
‘n Goeie vertrekpunt om toerisme te herstel, sal wees om toe te sien dat oneerlike amptenare ‘n tronkdeur agter hulle hoor toeslaan.


