Dit wil voorkom of die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se ingryping in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) meer skade as goed kan doen.
Die ingryping is om die munisipaliteit uit finansiële bankrotskap te red. Met elke poging om te help val Emfuleni egter net verder in die moeilikheid.
Die VF Plus het reeds jare gelede die munisipaliteit gewaarsku oor wanadministrasie en die politieke wil wat ontbreek om die munisipaliteit suksesvol te bestuur.
Die Gautengse regering het Emfuleni al vier jaar terug onder gedeeltelike administrasie geplaas sonder verbetering.
Lesufi se opdrag om alle staatsinstansies soos skole, staatshospitale en klinieke wat agterstallig met munisipale rekeninge is, se krag Maandag te begin sny, is nie ʼn oplossing nie.
Die Gautengse regering is verantwoordelik vir dié instansies se munisipale rekeninge en Lesufi moet eerder druk op die onderskeie departement plaas om getrou maandeliks hul diensterekeninge te vereffen.
Die afsny van kragtoevoer na staatshospitale en klinieke gaan ook hul dienslewering aan inwoners benadeel.
Uit Emfuleni se 45 wyke is daar net sewe wat 80% van hul maandelikse diensterekening vereffen.
Inwoners, ondernemings en staatsinstansies skuld Emfuleni sowat R120 miljoen.
Die VF Plus het Lesufi gewys op die 90 000 HOP-huise wat die Gautengse regering in Emfuleni opgerig het, maar nie op die eienaars se name geregistreer het nie.
Die munisipaliteit verskaf dienste aan die inwoners sonder dat hulle daarvoor betaal.
Die verlies aan inkomste is baie groot, maar die munisipaliteit het geen plan om die dienstegelde te verhaal of eienaarskap te finaliseer nie.
Lesufi kan met die beste planne na Emfuleni kom, maar solank die politieke wil ontbreek, is daar nie lig aan die einde van die tonnel vir inwoners nie.
Emfuleni verdien beter as die ANC.
Navrae: 076 616 2124