Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lekwa: Voorgestelde 4,4% verhoging in eiendomsbelasting klap in gesig van belastingbetalers

Die VF Plus verwerp die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton/Lekwa, Morgenzon) se voorstel om eiendomsbelasting met 4,4% te verhoog, ten sterkste.

Eiendomsbelasting is veronderstel om noodsaaklike dienste soos padinstandhouding, vullisverwydering, straatbeligting en die instandhouding van openbare ruimtes insluitend parke en biblioteke te finansier.

Tog weerspieël die werklikheid in Lekwa ‘n ander prentjie. Strate is deurspek met slaggate en word selde herstel en straatligte werk nie. Vullisverwydering word onreëlmatig gedoen wat ernstige gesondheidsrisiko’s skep.

Brandweer- en nooddienste is gebrekkig en het te min hulpbronne terwyl gemeenskapsentrums verlate staan. Daar word niks gedoen aan die verwaarloosde parke en ontspanningsgeriewe nie wat ook gereeld gevandaliseer word.

Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit van inwoners verwag om meer te betaal terwyl hulle minder ontvang. Inwoners kom reeds hul finansiële verpligtinge na, maar word gelaat met vervalle infrastruktuur en min tot geen munisipale ondersteuning in ruil daarvoor nie.

In plaas daarvan om interne ondoeltreffendheid aan te spreek, onnodige uitgawes te besnoei of inkomste-invordering in nie-betalende gebiede te verbeter, gaan die munisipaliteit voort om diegene wat reeds bydra, af te knou.

Die oplossing is nie om betalende inwoners verder te belas nie, maar om billike toepassing en verantwoordelike finansiële bestuur oor alle sektore heen te verseker.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die munisipale bestuur om hul prioriteite in orde te kry:

  • Besnoei verkwistende uitgawes.
  • Hou onbevoegde amptenare aanspreeklik.
  • Lewer die dienste waarvoor inwoners betaal.

Die VF Plus sal nie stilsit terwyl gemeenskappe ineenstort en belastingbetalersgeld verkwis word nie. Die party staan vas in sy verbintenis tot regverdige bestuur en dienslewering vir alle inwoners van Lekwa.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.