fbpx
Vryheidsfront Plus

Leë woorde en doellose planne gaan geen vrou beskerm nie

Terwyl geslagsgegronde geweld en moord op vroue in felheid toeneem, is die regering se oplossing jaar na jaar dieselfde: Nóg leë voorstelle, planne en programme sonder enige uitkoms.

Geen plan om vroue waarlik te bemagtig, sal sukses behaal sonder ‘n holistiese benadering om die totale gemeenskap op te hef en te bemagtig nie.

Dit sluit in ‘n behoorlik funksionerende onderwysstelsel, -gesondheidsorgstelsel en polisiemag, behoorlike dienslewering en 'n groeiende en vooruitstrewende ekonomie.

Luidens amptelike statistiek is meer as 13 000 vroue aangerand in die kwartaal van Julie tot September vanjaar. Altesame 989 is vermoor en 10 000 verkragtingsake is by die polisie aangemeld.

Dit is bekend dat hierdie aangemelde sake slegs die punt van die ysberg is aangesien vroue bang is vir verdere viktimisering. Daar is ook ‘n groot tekort aan polisie-mannekrag en toerusting wat in verkragtingsake gebruik word. Hospitale raak toenemend wanfunksioneel en oorvol.

Howe vir seksuele oortredings bly steeds net ‘n leë 2019-belofte van pres. Cyril Ramaphosa. Om sake te vererger is daar ‘n reuse agterstand in DNS-toetse by die polisie se forensiese laboratoriums wat die kans op suksesvolle vervolging ondermyn.

In die tydperk van Maart 2021 tot April vanjaar, het 90 037 meisies tussen die ouderdomme van 10 en 19 swanger geraak. Jaarliks word meer as 10 000 babas weggegooi. Die meeste oorleef dit nie.

Hierdie tienerswangerskappe hou direk verband met die uitvalkoers in skole.

Luidens ‘n verslag van Amnestie Internasionaal faal Suid-Afrika se onderwysstelsel die jeug van die land. Dit word gekenmerk deur vervalle infrastruktuur, oorvol klaskamers en swak onderriguitkomste.

Bemagtiging begin in die klaskamer waar kinders toegerus word met die gereedskap om vir hulself ‘n ekonomies volhoubare toekoms te skep. Dit is die beste manier van bemagtiging.

Die werkloosheidsyfer is ewe droewig. Luidens die jongste statistiek is 3,5 miljoen uit 10,2 miljoen jong mense tussen 15 tot 24 totaal werkloos en sonder enige opleiding.

Die groter werkloosheidsyfer staan op 43,1% – bykans die helfte van die ekonomies aktiewe bevolking. Wanhoop, depressie, dwelmmisbruik, 'n toename in misdaad en ander maatskaplike euwels neem dienooreenkomstig toe met werkloosheid en geslagsgeweld.

Al hierdie dinge moet reggestel word. Nog ‘n plan of program sal niks beteken solank die ANC aan bewind is nie.

Ware opheffing en bemagtiging van vroue sal deel wees van die totale opheffing van Suid-Afrika en dit sal eers begin nadat daar van die ANC ontslae geraak is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.