fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-burgemeesterskomiteelid open Ekurhuleni se vierde internasionale filmfees

Die VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in die Ekurhuleni-metroraad, Jennifer Glover, het die afgelope naweek die vierde Ekurhuleni-Internasionale Filmfees (EIFF) geopen.

Die tema van hierdie jaar se filmfees was innovasie.

Die filmfees is gerig op opkomende filmvervaardigers van Ekurhuleni oor alle genres heen, maar filmmakers van regoor die wêreld kon ook deelneem.

Die EIFF is in 2016 geskep deur Make It Happen Productions, Nghalamona Entertainment en Rhythm Cycle Projects in vennootskap met die Ekurhuleni-metro.

Die doel van dié fees is om filmmakers te bemagtig met die noodsaaklike vervaardigingsvaardighede, om netwerk-geleenthede te skep tussen plaaslike en internasionale kunstenaars en uitsaaiers asook die bevordering van plaaslike ondernemings in die filmbedryf.

Die lede van die filmpaneel het hierdie jaar meer as 3 000 films wat ingeskryf is, beoordeel om te besluit watter vertoon gaan word en vir pryse in aanmerking gaan kom.

Die internasionale filmfees dien ook as sneller tot ekonomiese ontwikkeling in die metro en speel ‘n belangrike rol om die geweldige werkloosheid teen te werk.

Suid-Afrika se mense beskik oor ‘n diverse en energieke kulturele rykdom wat wag om ontgin te word deur die filmbedryf.

Benewens die finansiële voordele wat spruit uit die filmbedryf, dra die bedryf ook by tot die inspirasie van gehore en die vervulling van die potensiaal van kunstenaars.

Die Ekurhuleni-metro wil hierdeur verdere kreatiewe ontwikkeling aanmoedig en sal ook geteikende strukturele ondersteuning hiervoor bly skep.

Vennootskappe tussen die verskillende vlakke van regering, en tussen die regering en filmbedryf is krities om die bedryf verder te ontwikkel.

Die VF Plus is trots daarop om die werk van die metro se filmkunstenaars ten toon te stel wat iets weergee van die siel van Ekurhuleni.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.