Die Emfuleni plaaslike-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se rioolprobleme het die afgelope weke toegeneem weens ‘n gebrek aan onderhoud en herstelwerk aan rioolpompstasies.
Terwyl riool vrylik vloei in strate en erwe en mangate oorstroom, kan Emfuleni nie reageer op enige klagtes nie omdat Randwater sy veertien leenbakkies aan die munisipaliteit onttrek het.
Dit het gevolg nadat die nasionale departement van water en sanitasie Randwater as kontrakteur die trekpas gegee het.
Tshogo Sun, die nuwe eienaars van die Emerald Casino, het ‘n maand gelede R1 miljoen aan herstelwerk van die rivierpompstasie bestee waarna die munisipaliteit slegs die pompstasie moes onderhou.
Dié rioolpompstasie is op die rivieroewer van die casino geleë. Die pompstasie het ná twee weke opgehou werk en die wildtuin langs die casino is deels oorspoel met riool.
Die VF Plus het in Oktober 2021 ‘n strafregtelike klag by die Vanderbijlpark-polisiekantoor ingedien teen die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, weens Emfuleni se oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuurwet.
Die nasionale departement het op 2 Februarie 2021 beheer oorgeneem van die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte en is ook verantwoordelik vir die opknapping van pompstasies om rioolstorting stop te sit.
Die departement het voor die oorname beloof om R1,2 miljard te bestee om die stukkende pompstasies te herstel.
‘n Bedrag van R50 miljoen is aangewend om die rivierpompstasie by die Emerald Casino, die turbo-industriële pompstasie langs die R42 en pompstasies oorkant die Riviera-hotel te herstel.
Slegs 7% van die werk wat die departement van water en sanitasie belowe het, is gedoen.
Inwoners van Emfuleni word al vir jare gestraf vir die departement en die munisipaliteit se wanadministrasie en onvermoë om Emfuleni behoorlik te bestuur.
Emfuleni verdien beter as die ANC.