fbpx
Vryheidsfront Plus

Land brand op vele plekke in protes oor dienslewering terwyl ANC oor dienslewering spog

Terwyl die ANC-regering spog oor goeie plaaslike regering, is die land op talle plekke besig om te brand juis oor swak dienslewering, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gesê feitlik alle gewelddadige protesoptogte in Suid-Afrika begin as ‘n protesoptog teen swak dienslewering.

Hy sê ‘n verdere gevolg van die hierdie optogte is dat misdadige elemente die situasie misbruik om winkels te plunder en eiendom aan die brand te steek.

“Die minister (Des van Rooyen) skilder ‘n prentjie wat nie waar is nie. Hy spog oor hoeveel werkgeleenthede geskep is. Kan hy eerder sê waarom daar so ‘n groot tekort aan amptenare is en waarom daar soveel ongekwalifiseerde amptenare in plaaslike regering is?

“Die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag meld dat 42% van werkers in finansiële departemente onvoldoende gekwalifiseerd is terwyl 13% munisipale bestuurders glad nie gekwalifiseerd nie. Sowat ‘n derde van alle munisipaliteite het nie ‘n gekwalifiseerde hoofingenieur in diens nie.

“Teen hierdie agtergrond moet die ANC nie wonder waarom mense opstandig raak oor ‘n gebrek aan dienslewering nie.

“Wat vakante poste aanbetref is daar in die waterbestuursdirektorate van plaaslike regerings 43 000 poste wat nie gevul is nie. Oor finansiële bestuur lui die OG se verslag dat 92% van munisipaliteite se finansies uiters kommerwekkend is, en dat 25% tegnies bankrot is.

“Uitstaande skulde aan munisipaliteite deur nie-betalers beloop meer as R110 miljard. ‘n Munisipaliteit kan nie funksioneer as mense nie betaal vir dienste nie, en hierdie kultuur van nie-betaling het die ANC self geskep.

“Dit is ook duidelik dat die ANC nie die vermoë of die wil het om daardie kultuur om te draai nie, want hy wil nie na sy kiesers gaan en hulle aansê om te begin betaal nie.

“Wat die regering nou doen is om betalers van dienstegelde te verplig om meer te betaal, en die wat weier om te betaal, te subsidieer.

“Sommige munisipaliteite kan byna nie eens meer salarisse betaal nie. In ander gevalle word belasting- en pensioenaftrekkings nie oorbetaal nie, maar gebruik vir infrastruktuur-ontwikkeling.

“Dit is die werklike prentjie van plaaslike regering, en nie die Utopia wat die ANC aan kiesers probeer voorhou nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.