fbpx
Vryheidsfront Plus

Befondsing van politieke partye ongrondwetlik en ongelyk ten gunste van die ANC

Verkiesings in Suid-Afrika kan nie vry en regverdig plaasvind met ‘n staatsfinansieringsmodel wat die regerende ANC totaal eensydig bevoordeel soos dit tans daar uitsien nie. Die komende 2019-algemene verkiesing gaan van die grootste belang wees vir die land se demokrasie, en vir die toekoms van elke persoon in Suid-Afrika. Daarom is dit baie belangrik dat dit waarlik vry en regverdig moet wees, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê soos die finansieringsmodel ingevolge artikel 236 van die Grondwet tans toegepas word, bevoordeel dit hoofsaaklik die ANC en is verkeerd en onbillik teenoor opposisiepartye.

Hy sê die wet bepaal tans dat 90% van die fonds proporsioneel, en slegs 10% op gelyke basis toegeken word. Die gevolg hiervan is dat die ANC vir die 2017/2018-boekjaar R83,58 miljoen van die R140,72 miljoen ontvang. Die DA ontvang R30,47 miljoen en die R26,67 miljoen wat oorbly, moet tussen elf ander opposisiepartye verdeel word.

In die vyf jaar van 2010 tot einde 2014 het die ANC R324,16 miljoen ontvang, die DA R85,64 en die VF Plus R5,52 miljoen (R1,1 miljoen per jaar).

Dr. Groenewald sê dit beteken in effek dat die belastingbetaler se geld hoofsaaklik daarop bestee word om ‘n korrupte regering se verkiesingstryd te finansier en hom in beheer te hou.

“Artikel 236 bepaal dat wetgewing, wat dit ten doel het om veelparty-demokrasie te bevorder, politieke partye wat verteenwoordiging in die parlement en provinsiale wetgewers het, gelyk en op ‘n proporsionele basis moet befonds. Die Wet op die Befondsing van Politieke Partye, wat geadministreer word deur die Verkiesingskommissie (VK), reël hierdie befondsing.

“Die VF Plus is van mening dat die toepassing van die artikel nie net onregverdig is nie, maar ook ongrondwetlik is, aangesien ‘n 90% proporsionele en slegs 10% gelyke verdeling van die fonds, nie voldoen aan die bedoeling van artikel 236 se “gelyke en proporsionele” verdeling nie.

“Wat die verkiesingstryd self aanbetref, is die kostes vir almal dieselfde. Die koste om een plakkaat teen ‘n lamppaal te kry beloop sowat R30. Die koste van net 300 000 plakkate is reeds R9 miljoen. ‘n Enkele voorblad-advertensie in Rapport beloop R400 000. ‘n Enkele radio-advertensie van 30 sekondes beloop sowat R8 000. Hieruit kan duidelik gesien word hoe ongelyk die huidige formule verkiesings maak.

“Wat private donasies aanbetref, is die VF Plus ten gunste daarvan dat partye die name van donateurs openbaar maak. Dit geld alle partye en veral die ANC. Indien maatskappye wel in belang van ‘n gesonde demokrasie geld wil skenk om verkiesings vry en regverdig te maak, kan die geld in ‘n fonds geplaas word en op ‘n regverdige wyse aan die partye verdeel word.

“Die VF Plus het regsadvies oor die saak gekry wat baie gunstig is. Ons is tans in die proses om ‘n hofgeding te begin ten einde ‘n meer regverdige verdeling van die fondse te verseker. Ander opposisiepartye word genooi om deel te vorm van hierdie inisiatief ten einde werklike veelparty-demokrasie te verseker en om die 2019-verkiesing meer vry en regverdig te maak,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.