Die VF Plus neem kennis van die ANC se besluit om van sukkelende Vrystaatse munisipaliteite soos Mafube, Moqhaka, Letsemeng, Nketoana, Nala, Masilonyana en die Lejweleputswa-distrikmunisipaliteit se burgemeesters, speakers en hoofswepe die trekpas te gee.
Hierdie is ʼn stap in die regte rigting wees, maar die realiteit is dat die ANC self die oorsaak is van dié munisipaliteite se jarelange verval, finansiële wanbestuur, korrupsie en ʼn algehele gebrek aan dienslewering.
Ná 31 jaar het die party bewys hy kan eenvoudig nie regeer nie. Sy uitgediende beleide van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het dienslewering gekelder en Vrystaatse munisipaliteite omskep in ʼn teelaarde van korrupsie.
Die vraag is egter of die ANC in staat is om bevoegde en kundige amptenare aan te stel. Solank as wat ANC aanhou om ongekwalifiseerde en onbevoegde kaders aan te stel, sal niks in hierdie munisipaliteite verander of verbeter nie.
Dan is dit maar net die rondskuif van stoele op ʼn sinkende skip.
Die enigste blywende oplossing is om van die ANC by die stembus ontslae te raak.


