Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mbombela hou raadslede in die duister

Die VF Plus is diep bekommerd oor die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Nelspruit, Hazyview, Witrivier, Barberton, Skukuza, Kaapschehoop) se versuim om raadslede behoorlik in te lig oor tersaaklike aangeleenthede wat daartoe lei dat raadsbesluite nie uitgevoer word nie.

As die hoogste besluitnemende liggaam, is die munisipale raad afhanklik daarvan dat aangewese departemente besluite uitvoer. Swak kommunikasie ondermyn hierdie proses.

‘n Groot rede vir die swak kommunikasie is gebrek aan werkswinkels wat noodsaaklik is om lede in te lig oor nuwe en gewysigde beleide voordat dit aangeneem word.

Die VF Plus het herhaaldelik gevra waarom daar te min tyd is om beleide te bestudeer, maar die ANC dryf dit deur, soms met beloftes van werkswinkels ná aanvaarding. Dié beloftes word selde nagekom.

Luidens skriftelike antwoorde van die munisipaliteit is slegs 2 van die 47 geskeduleerde werkswinkels sedert 2021 voltooi, wat raadslede in die duister laat oor hoe beleidsveranderings in werking gestel en uitgevoer word en hoe departemente aanspreeklik gehou kan word.

Hierdie probleem strek terug na besluite uit 2021 en 2022, wat van kritieke belang is vir dienslewering soos water, sanitasie, en infrastruktuur.

Die gebrek aan insig laat raadslede magteloos teenoor interne burokrasie.

Die VF Plus het aan die burgemeester, Sibongile Makushe-Mazibuko en die speaker, William Nkhata, geskryf om redes vir die versuim om hierdie werkswinkels aan te bied te verduidelik.

Afhangende van hul reaksie, sal die VF Plus Mpumalanga se LUR van samewerkende regering en tradisionele sake, Speedy Mashilo, nader vir ingryping.

Mbombela se inwoners verdien ’n raad wat volledig ingelig en in staat is om hul belange te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.