Die VF Plus het in ’n kritieke 4,5 km-deurpad vanaf Jeanlaan suidwaarts tot by Lenchenlaan en die Lifestyle Sentrum in Centurion slegs 14 werkende straatligte gevind uit ʼn totaal van 109 op dié roete.
Dié deurpad bedien inwoners van vier woonbuurte naamlik Clubview, Hennopspark, Bronberrik en Hennopspark-industriële gebied.
Hierdie verwaarloosde roete dra hoë verkeersvolume en verbind sleutelplekke soos die Hennopspark Laerskool, twee vulstasies wat gelukkig lig verskaf, ’n gimnasium en ’n kettingwinkel.
Terwyl ActionSA spog met die herstel van duisende straatligte in die Tshwane-metro, bly hierdie gedeelte in duisternis gehul en onveilig.
Die situasie is veral kommerwekkend vir werkers van hierdie ondernemings wat met rede bang is om in die donker na taxi-staanplekke of hul huise te stap.
Die teenwoordigheid van ’n informele plakkerskamp, sluipslapers langs die Hennopsrivier en ’n industriële gebied, verdubbel die risiko vir inwoners en pendelaars.
Die VF Plus daag ActionSA se burgemeester, dr. Nasiphi Moya, uit om binne 14 dae ’n konkrete plan voor te lê om al 109 lamppale te herstel, met ’n dringende tydlyn vir implementering.
Hierdie roete se strategiese belang en die veiligheid van sy gebruikers kan nie langer geïgnoreer word nie, veral ná onlangse voorvalle soos die gewapende roof op 20 Augustus 2025 by ’n nabygeleë winkel.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die gemeenskap om saam te staan en druk op die Tshwane-metro te plaas vir onmiddellike aksie.
Tshwane se inwoners verdien veilige, verligte strate – nie ’n nagmerrie van duisternis en misdaad nie.
Die VF Plus sal voortgaan om toesig te hou en verantwoordbaarheid te eis totdat hierdie saak aangespreek is.


