Ingryping van die VF Plus het daartoe gelei dat ‘n sakeman se geding met die Gautengse departement van vervoer oor die hernuwing van ‘n sakelisensie, in sy guns besleg is.
Die minister van vervoer, me. Barbara Creecy, het die VF Plus se appèl oor die aangeleentheid aangehoor en beslis dat die lisensie wel aan die sakeman uitgereik moet word.
Die onderneming bestaan reeds sedert 2002 en vervaardig nommerplate. Die persoon het versoek dat sy naam nie genoem word nie.
In Februarie vanjaar het die provinsiale departement van vervoer sy perseel geïnspekteer en ten spyte van die feit dat hy sy SABS-inspeksies gereeld slaag, ‘n sertifikaat daarvoor gehad het en sy perseel in orde was, het die departement geweier om die lisensie te hernu.
Die rede wat aan hom verskaf is, was bloot dat hy nie voldoen het aan voorgeskrewe vereistes nie.
Die VF Plus is in Maart vanjaar genader om hulp en het na die inwin van inligting en dokumente dadelik ingevolge regulasie 49 van die Nasionale Padverkeerswet, 93 van 1996, namens die persoon appèl aangeteken by die minister van vervoer.
Die party het ook self die betrokke perseel van die onderneming gaan besoek en kon geen fout vind met die perseel of die bedrywighede wat daar plaasvind nie.
Minister Creecy het gister in ‘n amptelike skrywe aan die VF Plus, nadat sy al die feite en rekords soos wat dit deur die party ingedien is nagegaan het teenoor die rekords van die departement, besluit om die appèl te handhaaf.
Die minister noem in haar skrywe aan die VF Plus dat die Gautengse departement van vervoer nie voldoen het aan regulasie 51 van die Nasionale Padverkeersregulasies van 2000 tydens die uitvoering van sy pligte nie. Die klaer is wel daarop gewys dat hy die reg tot appèl het.
Die VF Plus is verheug oor die oorwinning. Hierdie geval is waarskynlik nie geïsoleerd nie en die party verwag dat nog vele vervaardigers van nommerplate wat dieselfde probleme ervaar, by die party gaan aanklop om hulp.
Die party is reeds hieroor in gesprek met die License Plate Association of South Africa (LAZA) wat optree in belang van alle nommerplaatvervaardigers om uit te vind of daar ander maatskappye is wat dieselfde probleem het.
Die VF Plus is van mening dat provinsiale regerings en departemente onderworpe is aan nasionale wetgewing en regulasies. Hulle moet daarby hou en nie optree soos hulle wil nie.
Die VF Plus ondersoek wel die saak verder om te bepaal waarom die provinsiale departement opgetree het op ‘n onbehoorlike wyse wat ‘n hele aantal mense hul werk kon kos.


