Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kragtoerusting vergaan in Ekurhuleni-pakkamers terwyl inwoners ly

Terwyl sowat R500 miljoen se ongebruikte kragtoerusting sedert 2015 in pakkamers in die Ekurhuleni-metro stof opgaar, ly inwoners byna daagliks onder kragonderbrekings.

ʼn Onlangse voorraadopname van die departement van energie het onthul dat R512 miljoen se voorafbetaalde kragmeters, transformators, brekers, skakelaars en hoogspanningskabela in pakkamers geberg word.

Die voorraad is toerusting wat gebruik kan word vir dringende herstelwerk en opgraderings.

Tog beweer die departement dat herstelwerk vertraag word weens toerusting- en arbeidstekorte.

Die VF Plus het al herhaaldelik druk geplaas op die burgemeesterskomiteelid vir energie, Mzayifani Ngwenya, om die wanbestuur van hierdie voorraad te verduidelik, maar die verskonings bly ʼn tekort aan toerusting en arbeid.

Volgens die departement was daar ook geen oorbesteding met die aanskaffing van die voorraad nie en word dit bestuur op grond van diensleweringsbehoeftes.

Die risiko verhoog maandeliks dat die ongebruikte voorraad kan beskadig, verouder of nie meer aan spesifikasies kan voldoen nie. Dit kan groot finansiële verliese meebring.

Die VF Plus eis die volgende:

• ʼn Volledige en onafhanklike ondersoek na die bestuur van kragvoorraad sedert 2015;
• ʼn Volledige oudit van alle kragtoerusting wat sedertdien aangekoop en geberg is;
• ʼn Omvattende aksieplan om die voorsiening, installering en sirkulering van toerusting te verbeter;
• Beleidsverandering om toekomstige wanbestuur te voorkom;
• Aanspreeklikheid van beide die energie- én finansiële departemente.

Die departement van energie speel ʼn sleutelrol in die ekonomiese en maatskaplike stabiliteit van Ekurhuleni. Deursigtigheid, verantwoordbaarheid en doelgerigte voorraadbestuur is nie onderhandelbaar nie.

Ekurhuleni se inwoners verdien ʼn betroubare, funksionele kragdiens. Die VF Plus sal aanhou druk toepas vir antwoorde en regstellende optrede teen diegene wat hul pligte versaak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.