Die VF Plus het vandag in ‘n skrywe aan Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta), Oageng Molapisi, geëis dat hy dringend wetlik optree teen die groep raadslede wat die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit reeds vir ‘n geruime tyd met hul onwettige optrede lamlê.
Die party verwelkom ook die regsduidelikheid in die jongste hofuitspraak oor die regmatige ampsdraers in die munisipaliteit. Die uitspraak volg nadat ‘n ANC-faksie die munisipaliteit probeer kaap het en onder andere hul eie burgemeester en speaker aangewys het. Hulle het ook onmiddellik begin om onregmatig kontrakte aan diensverskaffers toe te ken.
In die skrywe word versoek dat die LUR sy volle magte ingevolge die toepaslike munisipale wetgewing inspan om hierdie groep raadslede verantwoordbaar te hou vir hul onwettige bedrywighede.
Die wetgewing maak onder meer spesifiek daarvoor voorsiening dat enige finansiële verliese wat as gevolg van dié optrede deur die munisipaliteit gely is, van sulke raadslede verhaal moet word. Dit sluit alle onregmatige betalings aan hierdie individue in.
Die VF Plus eis ook dat die betrokke raadslede uit hul ampte verwyder word weens hul oortredings van die gedragskode vir openbare ampsdraers.
Die gemeenskap in Ditsobotla, wat onder meer Lichtenburg en Coligny bedien, ly reeds lank onder die optrede van die onderskeie ANC- en EFF-faksies in die munisipaliteit. Die konflik tussen hierdie faksies word skynbaar gemotiveer deur ‘n stryd om toegang tot munisipale bates en finansiële hulpbronne.
Die ANC-geleide provinsiale regering in Noordwes behoort die belange van die Ditsobotla-gemeenskap voorop te stel en moet ophou wegskram van ferm optrede teen raadslede weens interne ANC-politiek.