Terwyl die burgemeester van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, Sipho Radebe, skitter in sy afwesigheid, moet burgemeesterskomiteelede en die speaker, Sibongile Soxusa, bontstaan om inwoners se diensleweringsvrae rakende die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te beantwoord.
Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het reeds drie vergaderings in verskillende gebiede aangebied as deel van sy openbare deelnameproses om voorstelle en vrae van inwoners aan te hoor.
Die feit dat die burgemeester nie die vergaderings bywoon nie en slegs ter elfde ure ʼn burgemeesterskomiteelid as waarnemende burgemeester na die vergadering stuur, is onaanvaarbaar.
Tydens ʼn vergadering met inwoners van Evaton en Sedibeng het inwoners hul frustrasie met dienslewering, wanbesteding en jarelange verwaarlosing van infrastruktuur uitgespreek.
Die burgemeesterskomiteelid van finansies, Hassen Mako, het wel die vergadering bygewoon, maar kon geen betekenisvolle insette lewer nie. Sy teenwoordigheid was slegs simbolies eerder as bydraend.
Ingevolge die Munisipale Strukturewet is die munisipaliteit verplig om toe te sien dat die burgemeester en sy span aktief betrokke is by die proses van openbare deelname vir die samestelling van die GOP en die begroting.
Dieselfde wet plaas ʼn verantwoordelikheid op die burgemeester vir politieke leiding in die opstelling van beide dokumente.
Met sy afwesigheid, verbreek die burgemeester nie net sy vertrouensband met die kiesers nie, maar versuim ook die nakoming van sy wetlike pligte.
ʼn Afvaardiging mag in sekere gevalle aanvaarbaar wees, maar is nie ʼn algemene praktyk nie, veral nie wanneer gemeenskappe in wanhoop verkeer en dringend verantwoording eis nie.
Die inwoners van Emfuleni het vir dekades gebuk gegaan onder korrupsie, diensleweringsineenstorting en finansiële wanbestuur onder die ANC-regering.
Hierdie GOP-begrotingsvergaderings is een van die min kanale waardeur gemeenskappe hul stemme kan laat hoor en invloed kan uitoefen op die toekoms van hul gebiede.
Die afwesigheid van die burgemeester is dus nie net ’n politieke oortreding nie, maar verraad teenoor die mense van Emfuleni.