Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Afrikaanssprekendes se liefde vir hul taal en bereidwilligheid om daarvoor op te offer, mag nie onderskat word nie

Vandag, 8 Mei, is die honderdste herdenking van die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in Suid-Afrika. Om by dié “taalgeboorte” in 1925 uit te kom, het ‘n lang reis met baie opofferings geverg. ‘n Reis en stryd wat steeds nie verby is nie.

Die sentrale boodskap in hierdie taalreis is een van ‘n besondere liefde wat Afrikaanssprekendes vir hul taal het: ‘n Liefde só groot dat ‘n blywende monument vir haar opgerig is, en só diep gewortel dat vyande van Afrikaans dit tot hul nadeel sal geringskat.

Een voorbeeld is dat Afrikaans met die nuwe bedeling in 1994 byna nek omgedraai is toe die ANC en selfs die DA voorgestel het dat Engels die enigste amptelike landstaal moet wees.

Die VF Plus het feitlik alleen hierteen opgestaan en daarop aangedring dat daar ook erkenning gegee word aan Afrikaans en van die ander inheemse tale.

Die vrug hiervan is dat Suid-Afrika vandag twaalf amptelike tale het. Maar soos die mooi gesegde in Afrikaans lui: Die skyn hiervan bedrieg. Engels staan voor in die ry van die amptelike tale terwyl Afrikaans moet veg om oorlewing.

Teen hierdie agtergrond bestaan daar wesenlike kommer dat die Bela-wet, in besonder klousules 4 (toelatingsbeleid) en 5 (taalbeleid), ‘n instrument skep om Afrikaanse skole te teiken in die naam van “gelykheid en toeganklikheid”.

Van die bykans 25 000 skole in Suid-Afrika was daar verlede jaar nog net 1 303 Afrikaanse enkelmediumskole oor – 15% minder as in 2012 toe daar nog 1 531 was.

In net 12 jaar het Afrikaanse skole met 228 verminder. (Die Burger, 30 Julie 2024: Niks meer Afrikaanse gr. R- en gr. 1-klasse by dié Kaapse skole nie).

Die vrese oor die aanslag op Afrikaanse skole is wesenlik, nie net ‘n versinsel nie.

Die VF Plus se mening oor Bela is daarom dat “gelykheid en toeganklikheid” ‘n gerieflike dekmantel is om Afrikaans deur dubbelmediumonderrig verder uit te faseer en dat dit Afrikaanssprekendes se grondwetlike reg op moedertaalonderwys skend.

Die realiteit is dat Afrikaans, soos enige ander taal, se toekoms nie sonder meer gewaarborg is nie. ‘n Taal kan verdwyn wanneer hy sy hoër funksies verloor.

Indien daar nie boeke en koerante in ‘n taal verskyn nie, dit nie meer in die hof, parlement, skole, universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit sy status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak.

In ‘n neutedop was die aanloop tot die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in 1925 ‘n dekades-lange kulturele, politieke en sosiale stryd wat gegrond was in die strewe na Afrikaner-identiteit en selfbeskikking.

Die formele stryd om die erkenning en bevordering van Afrikaans het in 1875 beslag gekry met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Twee vryheidsoorloë het Afrikaner-nasionalisme aangespoor en die behoefte aan ‘n eie taal en identiteit versterk.

Die stryd teen Engels was toé ook opdraande, soos blyk uit die gedig “Vooruitgang” van C.P. Hoogenhout (1914):
“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor…”

Met Uniewording in 1910 is Engels en Nederlands – toe reeds argaïes – as amptelike landstale erken.

Taalreuse soos C.J. Langenhoven, digters soos Totius en Louis Leipoldt en publikasies soos Die Burger het intussen ‘n reuse bydrae gelewer om Afrikaans as ‘n kulturele en intellektuele taal te vestig.

Deurlopende politieke druk deur rolspelers soos J.B.M. Hertzog en D.F. Malan het eindelik geslaag toe die Official Languages of the Union Act in 1925 gewysig is om Afrikaans as ‘n amptelike taal langs Engels te erken.

‘n Mens wil bykans sê die res is geskiedenis, maar nie werklik nie. Die stryd om die gebruik van Afrikaans duur voort. En dit sal gestry word solank as wat die “Soetste Taal” leef in die harte van haar kinders.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.