Kleinboere van die Wateredge-kleinhoewes in Carletonville word die afgelope twee weke oorstroom met riool weens die Merafong-plaaslike munisipaliteit se voeteslepery om ʼn munisipale drein te ontblok.
Dié riool vloei vanuit die drein na die kleinhoewes en beland in die Wonderfonteinspruit wat uitmond in die Mooirivier.
Die situasie is so erg dat een van die eienaars slote moes grawe om te keer dat die riool deur haar huis stroom.
Volgens sommige eienaars vrek hul diere ook weens die besoedelde water.
Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie en kleinhoewe-eienaars word gedwing om self die storting skoon te maak.
Die VF Plus het die burgemeester van Merafong, Nozuko Best, geskakel en daarop aangedring dat die probleem spoedig opgelos word.
Sy enigste antwoord was dat die munisipaliteit ʼn spesiale masjien moet huur om die drein te ontblok.
Die situasie kan nie langer voortduur nie en die VF Plus sal gereeld die departement van sanitasie skakel om druk toe te pas om dit op te los.
Inwoners van Merafong en veral kleinboere wat ʼn bestaan uit die verkoop van diere maak, kan nie gestraf word vir wanbestuur en vervalle infrastruktuur nie.


