Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Govan Mbeki hou gemeenskappe gevange met diensleweringsversuim

Die VF Plus veroordeel die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt, Emzinoni) se onvermoë om basiese dienste aan sy inwoners te lewer.

Die jongste voorval – waar munisipale werkers inwoners van Secunda en Bethal versoek het om self kragkabels aan te koop voordat hul krag herstel sou word, is ’n bewys van ’n totaal wanfunksionele administrasie.

Werknemers van die munisipale elektriese departement het inwoners meegedeel dat die munisipaliteit nie kabels in voorraad het nie en dat hulle self kabels moet aankoop voordat enige herstelwerk kan plaasvind.

Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers, wat reeds onder ’n hoë finansiële las gebuk gaan, verder moet opdok vir wat deur wetgewing as ‘n basiese diens beskou word.

Artikel 152 en 153 van die Grondwet sowel as die Wet op Munisipale Stelsels stel dit duidelik dat volhoubare dienslewering ’n kernverantwoordelikheid van elke munisipaliteit is.

Die VF Plus beskou die huidige situasie as ’n direkte oortreding van hierdie bepalings.

Swak beplanning, begrotingsonvermoë en ’n gebrek aan behoorlike voorraadbestuur het daartoe gelei dat inwoners letterlik en figuurlik in die duister gelaat word.

’n Amptelike skrywe is reeds aan die munisipale bestuurder, mnr. Elliot Maseko, gerig waarin die VF Plus aandui dat hierdie praktyk onaanvaarbaar is.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas totdat verantwoordbaarheid en ordentlike dienslewering herstel is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.