fbpx
Vryheidsfront Plus

Kirkwood-onrus: Boere én gemeenskap ly onder geweldpleging

Die ironie van die wydverspreide geweldpleging in die landbougemeenskap van Kirkwood in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap is dat opstandiges klaarblyklik nie besef hulle vernietig hul eie vermoë om ’n inkomste te verdien nie.

Die VF Plus het dié gemeenskap vandag besoek en is veral getref deur die erge en sinnelose vernietiging en vandalisme.

Pakhuise vol pas geplukte produkte is in brande vernietig en woonhuise in puin gelê. Vrugte is in boorde gestroop en op die grond gegooi om te vertrap en takke van bome gebreek.

In sommige gevalle is hierdie skade só erg dat dit jare kan neem om weer in volle produksie te kom.

Geweldplegers besef klaarblyklik nie hulle vernietig die ondernemings waarvan hulle en hul gesinne afhanklik is vir ’n toekomstige inkomste nie.

Met die VF Plus se besoek vandag was daar ’n sterk en sigbare polisieteenwoordigheid in die gebied.

Alhoewel daar gister ’n ooreenkoms met die werkers bereik is, was dit vandag duidelik dat die gemoedere nog hoog loop en die situasie steeds plofbaar is.

In gesprekke met lede van die gemeenskap was dit vir die VF Plus duidelik dat baie vredeliewende mense wil terugkeer werk toe en ongelukkig is oor die wyse waarop ’n klein groepie die geweld en emosies bly aanjaag.

Hulle besef deeglik dat die situasie hul werk en inkomste in die gedrang bring.

Die VF Plus sal graag wil sien dat daar, soos met ander opstande van hierdie aard, vasgestel word wie agter die aanhitsing en geweldpleging sit.

Hierdie mense misbruik gewone werkers en moet pa staan vir die skade wat reeds miljoene rande beloop.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.