Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kannaland-munisipaliteit moet vrae beantwoord oor nuwe eiendomswaardasierol

Die VF Plus is bekommerd oor die Kannaland-plaaslike munisipaliteit (Calitzdorp, Ladismith, Vanwyksdorp, Zoar) se volgehoue weerhouding van kritieke inligting rakende die algemene eiendomswaardasierol vir die tydperk van 2026 tot 2031.

Dié gebrek aan deursigtigheid ontneem inwoners van hul reg om ingeligte besware teen moontlike buitensporige belastingverhogings aan te teken.

Ten spyte van die VF Plus se skriftelike versoeke aan die munisipale bestuurder, adv. Dillo Sereo, en senior amptenare, bly noodsaaklike vrae onbeantwoord.

Die munisipaliteit versuim om duidelikheid te gee oor die waardasiemetodes wat gebruik is. Dit sluit onder meer in of fisieke inspeksies van die eiendomme plaasgevind het, asook watter vergelykbare verkope as grondslag vir die nuwe waardasies gedien het.

Sonder hierdie inligting is dit vir huiseienaars onmoontlik om te bepaal of hul nuwe belastinglas redelik en markverwant is.

Die optrede van die munisipaliteit is in stryd met die Munisipale Eiendomsbelastingwet wat ’n billike en deursigtige proses voorskryf. Verder word inwoners se reg op inligting, soos gewaarborg deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), blatant geminag.

Hoewel die sperdatum vir besware van 27 Maart 2026 tot 20 April 2026 verleng is, is dié toegewing van min waarde as die munisipaliteit weier om die data te verskaf wat nodig is om ’n substantiewe beswaar te formuleer.

Swak kommunikasie en ’n oënskynlike onwilligheid om aanspreeklik gehou te word, ondermyn die beginsels van administratiewe geregtigheid soos vervat in die Grondwet.

Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die Kannaland-munisipaliteit om onmiddellik die volledige berekenings en tegniese data van die waardasierol aan die publiek beskikbaar te stel. Daar kan nie van belastingbetalers verwag word om blindelings in te stem tot verhoogde tariewe wat moontlik op foutiewe aannames berus nie.

Indien die munisipaliteit voortgaan om hierdie versoeke te ignoreer, sal die VF Plus nie huiwer om die aangeleentheid na hoër provinsiale owerhede te eskaleer om die regte van Kannaland se inwoners te beskerm nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.