Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni se finansies in vryval

Die Ekurhuleni-metro het wéér ʼn gekwalifiseerde ouditmening van die ouditeur-generaal (OG) ontvang vir die 2024/25-finansiële jaar wat daarop dui dat sekere finansiële inligting nie bevestig of vertrou kan word nie.

Dié uitslag kom ongeag die feit dat die metro ’n dispuut met die OG verklaar en die proses uitgerek het.

Hierdie is ’n ernstige waarskuwing oor swak finansiële bestuur en gebrekkige beheer.

Nog meer kommerwekkend is die feit dat die verslag onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes bevestig wat beteken dat belastingbetalers se geld steeds wanbestee word, sonder dat daar enige sigbare gevolge vir die skuldiges is.

Die regerende ANC-geleide administrasie wil die prentjie skets dat die gekwalifiseerde oudit net die gevolg is van die verlore R2 miljard in die inligting- en kommunikasietegnologie-debakel.

Al is die hoof-inligtingsbeampte, Moloko Monyepao, weens dié skandaal in die betrokke boekjaar geskors, hang daar steeds ‘n wolk van omstredenheid oor die meer as 1 600 rekeninge waarmee gepeuter is.

Die VF Plus is verder uiters bekommerd oor die dramatiese verswakking in Ekurhuleni se finansiële posisie en het veral kennis geneem van ‘n tekort van R656 miljoen aan die einde van die boekjaar, waar daar aan die begin van die boekjaar ‘n surplus van R545 miljoen was.

Die verslag dui ook op swak invorderingsvlakke, elektrisiteitsinkomste wat nie na wense is nie en ‘n ineenstorting in verkeersboete-inkomste weens ‘n wanfunksionele verkeersbestuurstelsel.

Aan die uitgawekant neem koste steeds toe weens onder meer grootmaat-aankope wat skerp styg, uitgekontrakteerde dienste wat skerp toeneem asook personeelkoste en oortyd wat toeneem.

Ten spyte hiervan het sekere departemente, soos diensleweringskoördinering, 0% van hul teikens bereik sonder dat daar enige aanspreeklikheid is.

Hierdie verslag wys duidelik dat Ekurhuleni nie net met finansiële uitdagings sukkel nie, maar ook ’n ernstige krisis van bestuur en aanspreeklikheid ondervind.

Die VF Plus glo dat daar dringende ingryping op bestuursvlak in die raad nodig is om finansiële dissipline te herstel, invorderings te verbeter, vermorsing uit te roei en die betrokke amptenare aanspreeklik te hou.

Ekurhuleni kan nie bekostig om op hierdie pad wat na ‘n afgrond lei, voort te gaan nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.