Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kabeldiefstal in Johannesburg vereis dringende oplossings

Die voortgesette kabeldiefstal in die Johannesburgse metro kan nie langer voortduur en inwoners se lewens en ondernemings se werksaamhede lamlê nie. Daar moet dringend oplossings gevind word vir dié soort misdaad.

In die tydperk van Julie 2024 tot Maart 2025 het City Power R114 miljoen se direkte verliese gely weens kabeldiefstal.

Hierdie misdaad is ernstig en ondermyn die metro se vermoë om volhoubare diens te lewer.

Die VF Plus doen ’n beroep op die metro om saam met wetstoepassingsagentskappe, nutsdiensmaatskappye en gemeenskappe daadwerklik op te tree om die krisis te bekamp.

Die party stel voor dat gespesialiseerde teen-kabeldiefstaleenhede dringend versterk word in samewerking met die polisie, die Johannesburgse metropolisie (JMPD) en City Power.

In 2025 het soortgelyke gesamentlike optredes reeds tot 132 arrestasies gelei, maar hoërisiko-gebiede soos Alexandra, Roodepoort en die sentrale sakekern vereis groter mannekrag en vinniger reaksie.

Verder moet tegnologies-gedrewe voorkomingsmaatreëls verskerp word wat die installering van kringtelevisiekameras, alarmstelsels en ondergrondse sensors by brandpunte insluit.

Hierdie benadering is reeds suksesvol by Lenasia se substasies getoets en kan help om oortreders vinnig te identifiseer.

Die regulering van skrootmetaal moet ook verskerp word. Met die sluiting van 1 079 ongeregistreerde skrootwerwe in 2025 in Gauteng reeds die voorsieningsketting van gesteelde koper gedeeltelik ontwrig en verdere optrede is nodig om sukses te behaal.

Die VF Plus bepleit ook groter gemeenskapsbetrokkenheid deur die uitbreiding van buurtwagprogramme en die instelling van belonings vir inwoners wat verdagte optredes aanmeld via toegewyde hulplyne soos City Power se 24-uur-kontaksentrum.

Bewusmakingsveldtogte, soortgelyk aan dié wat in 2024 geloods is, moet herhaal en uitgebrei word.

Die metro moet dit ook ernstig oorweeg om koperkabels te vervang met alternatiewe materiale soos aluminium of saamgestelde vesels, wat minder waardevol is vir diewe.

Eskom se proefprojekte toon dat hierdie benadering die aantrekkingskrag vir kabeldiefstal aansienlik verminder.

Die VF Plus sal onverpoos werk om ’n gekoördineerde en proaktiewe strategie in Johannesburg te vestig wat kritieke infrastruktuur beskerm.

Inwoners verdien ’n metro wat sy bates beskerm en dienslewering waarborg.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.