Die Kaapstad-stadion is vinnig besig om in die Stad Kaapstad en sy burgemeester Patricia de Lille se eie Nkandla te ontwikkel. Dit kos die stad se belastingbetalers net veel meer as die staatspresident se woning, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir Stad Kaapstad.
Mnr. Fourie sê die onlangse fiasko van sowat R30 miljoen van die Kaapstad Beker-toernooi onderstreep opnuut die juk wat die DA-beheerde stad met dié stadion op sy belastingbetalers plaas, en nieteenstaande verskeie waarskuwings en voorstelle van die VF Plus om die probleem op te los, weier De Lille om op te tree.
Een van die voorstelle wat mnr. Fourie al jare lank propageer, is dat die stadion vir R1 aan die WP Rugby-unie verkoop moet word. Die voorstel kry toenemend steun uit alle oorde, sê mnr. Fourie.
Mnr. Fourie het nou skriftelike vrae oor die stadion aan die burgemeester gerig wat met die raadsvergadering op 19 Augustus beantwoord moet word. Die vrae is:
Mnr. Fourie sê die tyd het aangebreek dat die volle feite oor die onbeholpe en onrealistiese hantering van hierdie wit olifant wat Kaapstad net meer en meer geld kos sonder om die basiese inkomste om uitgawes net te dek, aan belastingbetalers bekend gemaak word.
“Die betrokke burgemeesters-komiteelid, Garreth Bloor, moet saam met die burgemeester politieke verantwoordelikheid aanvaar en nie skuil agter die bedanking van die voormalige uitvoerende direkteur, Anton Groenewald nie. Hy word nou die enigste swartskaap gemaak.
“Die feit bly staan dat iemand die politieke besluite oor die stadion moet neem, en hierdie mense is De Lille en Bloor. Hulle kan nie soos ‘n president Jacob Zuma langer hulle skouers optrek en sê hulle is nie van die probleme bewus nie.
“In normale demokrasieë kan sulke politieke besluitnemers nie oorleef nie en is die aangewese weg om te bedank.
“Ook die Wes-Kaap se premier, Helen Zille, burgemeester voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi, kan nie kritiek vryspring nie. Sy het Kaapstad belowe die stadion sou sy belastingbetalers nie ‘n sent meer as R400 miljoen kos nie. Toe kos dit R5 miljard.
“Om die stad se verouderde waterpypstelsel volledig te vervang, sal sowat R15 miljard kos. Daardie R5 miljard kon ‘n derde van die waterprojek betaal het. Dit gee ‘n aanduiding van die prys wat Kapenaars vir die stadion betaal,” sê mnr. Fourie.
Kontaknommers: 083 441 9262 / 083 419 5403