‘n Vroulike raadslid van die VF Plus en nasionale voorsitter van die party se vrouekomitee, het klagte van opsetlike saakbeskadiging en onregmatige aanhouding by die polisie ingedien na ‘n nagmerrie-ondervinding met mense in uniform die afgelope week.
Volgens De Lange het ‘n onderonsie by ‘n winkelsentrum in Langlaagte ontstaan nadat sy geweier het om geld te gee aan ‘n persoon wat hom as ‘n karwag voorgedoen het.
“Die man was uiters aggressief en het my verhinder om te ry. Binne minute was daar etlike mense in uniform – vermoedelik sekuriteitspersoneel, om my voertuig saamgedrom.
“Ek het myself toegesluit in my voertuig en my voorruit is in ‘n stadium met ‘n tweerigting-radio stukkend geslaan terwyl ek gedreig en beledig is. Dit was voorwaar ‘n nagmerrie wat ek niemand toewens nie,” sê De Lange.
Sy sê dit is betreurenswaardig dat sulke voorvalle oënskynlik aan die orde van die dag is terwyl verskeie organisasies – ook die polisie – met bewusmakingsveldtogte oor geweld teen vroue besig is.
Die aktrise, Lele Ledwaba van Rhythm City, is luidens mediaberigte onlangs so brutaal aangerand deur ‘n Johannesburgse metrobeampte dat sy in die hospitaal beland het weens haar beserings.
De Lange sê die VF Plus se nasionale vrouekomitee is besig om ‘n dringende versoekskrif aan die minister van polisie voor te berei om hierdie tipe geweldpleging teen vroue te ondersoek.
Amanda de Lange
Vryheidsfront Plus-raadslid en Wesrandse streekleier
Kontak: 071 604 9498