Die jongste misdaadstatistieke van die polisie vir die tydperk Oktober tot Desember 2025, toon dat Gauteng steeds een van die gevaarlikste provinsies in die land bly.
Alhoewel daar geringe verbeterings in sekere misdaadkategorieë voorkom, bly die algehele vlak van geweldsmisdaad uiters hoog.
Daar was ’n afname in sekere ernstige misdade soos moord, huisroof en sakeroof, maar die afname bly klein in verhouding tot die uiters hoë vlakke van geweldsmisdaad wat steeds in die provinsie voorkom.
Terselfdertyd is daar kommerwekkende toenames in ander misdade. Veral gevalle van ontvoering, aanranding en seksuele misdrywe toon ’n opwaartse tendens. Gauteng bly ook ’n brandpunt vir kapings, gewapende roof en georganiseerde misdaad. Die provinsie dra steeds ’n buitensporige groot deel by tot Suid-Afrika se totale misdaadlas.
Hierdie statistieke bevestig dat inwoners van Gauteng daagliks met ’n ernstige veiligheidskrisis leef wat ’n direkte impak het op gemeenskappe, ondernemings en beleggersvertroue.
Die oplossing lê nie in simboliese beleid soos om wetsgehoorsame burgers verder te ontwapen nie, maar in daadwerklike optrede teen misdaad.
Dit sluit in die vernietiging van misdadige sindikate, die bekamping van onwettige vuurwapens, beter grensbeheer asook die versterking van intelligensiegedrewe polisiëring.
Die VF Plus beklemtoon ook die kritieke rol van effektiewe parlementêre en provinsiale oorsig.
Die party sal voortgaan om die werk van die polisie, die departement van gemeenskapsveiligheid en verwante strukture streng te monitor en hulle tot verantwoording te roep waar hulle faal.
Veilige gemeenskappe is ’n basiese voorwaarde vir ekonomiese groei, werkskepping en stabiliteit.
Die VF Plus bly daartoe verbind om in die wetgewende liggame en in gemeenskappe self te werk om misdaad daadwerklik hok te slaan.


