Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inwoners moet Emfuleni se waardasierol bevraagteken

Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners om vóór die 17de April 2026 beswaar aan te teken teen die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se nuwe eiendomswaardasierol.

Dié waardasierol – wat vir die tydperk van 2026 tot 2031 sal geld, tree op 1 Julie in werking, en sal tot verhogings in eiendomsbelasting vir baie inwoners lei, aangesien die gebruik van die grond in ag geneem word om die belasbare waarde vas te stel.

Die VF Plus wil dit duidelik stel dat hy nie die buitensporige verhogings steun nie, aangesien die nuwe waardes huiseienaars nóg meer gaan belas terwyl daar steeds minder dienste in dié munisipaliteit gelewer word.

Boonop word die nuwe rol vir kommentaar oopgestel sonder dat die bestaande eiendomswaardes met die faktureringstelsel gesinchroniseer is, wat tot verwarring en frustrasie by betalende inwoners lei.

Die VF Plus is van mening dat die proses nie ten volle deursigtig is nie. Omdat Emfuleni nie deeglike openbare data oor presiese gemiddeldes van waardasie-verhogings uitgereik het nie, is dit bykans onmoontlik om vergelykings te tref met eiendomswaardasies in ander munisipaliteite.

Huiseienaars wat ontevrede is oor die verhoogte belastingdruk wat die gevolg is van die administrasie se finansiële mislukkings, moet hul besware oor die nuwe waardasies so spoedig moontlik lug en nie wag tot die sperdatum nie.

Die VF Plus beskou eiendomsbelasting as ‘n belangrike inkomstestroom, maar dit moet regverdig, deursigtig en korrek toegepas word.

Die waardasierol is beskikbaar op Emfuleni se amptelike webwerf by die volgende skakel: https://emfuleni.gov.za/valuation-roll/ .
Beswaarvorms is ook daar beskikbaar.

Inwoners kan ook die volgende munisipale kantore of biblioteke besoek om die waardasierol te besigtig en beswaar aan te teken:

• Vanderbijlpark-munisipale kantoor
• Vereeniging-munisipale kantoor
• Masoheng Sebokeng-munisipale kantoor
• Mafatsane Evaton-munisipale kantoor
• Rus-Ter-Vaal-munisipale kantoor
• Sharpeville-biblioteek
• Bophelong-biblioteek

Die VF Plus sal voortgaan om toe te sien dat eiendomsbelasting gehef word op die jongste eiendomswaardasies en dat die prosesse om die waardasierol saam te stel, aan al die wetlike vereistes voldoen.

Finansiële wanbestuur en onduidelike fakturering in Emfuleni kan eenvoudig nie langer geduld word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.