Die VF Plus het nie die Johannesburg-metro se 2025/26-finansiële begroting gesteun nie omdat die begroting ʼn totale gebrek aan visie weerspieël en tot nadeel van die inwoners van die stad is.
Die party het op 24 April 2025 met die burgemeester, Dada Morero, en die burgemeesterskomiteelid oor finansies, Margaret Arnolds, vergader en werkbare voorstelle ter tafel gelê om ‘n positiewe, werkbare begroting daar te stel. Die voorstelle is geïgnoreer.
Die begroting het ʼn groot finansiële impak op inwoners terwyl dienslewering verswak.
Die tariewe vir die stad se dienste word met baie meer as die inflasiekoers verhoog, wat inwoners net nie meer kan bekostig nie.
Die inkomste-begroting beloop R84.8 miljoen, terwyl uitgawes R80.7 miljoen bedra. Dit laat die stad met ‘n begrote surplus van R4.1 miljoen. Die surplus is broodnodig om agterstallige rekeninge te betaal. Van die surplus word egter slegs R650 miljoen aan kapitaalprojekte toegeken.
Die kapitaalbegroting beloop R8.7 miljoen, wat R1.0 miljoen meer is as in 2024/2025. Die enigste ligpunt hier is dat die kapitaaltoewysing aan Johannesburg Water verhoog van R1.291 miljoen na R1.703 miljoen.
Hoewel dit nie naastenby genoeg is om ‘n wesenlike impak te maak om die vervalle waterinfrastruktuur te herstel nie, is dit tog ‘n stap in die regte rigting.
Dit is onverstaanbaar dat die kapitaaltoewysing aan City Power verlaag is van R1.532 miljoen na R1.360 miljoen, terwyl daar ‘n geweldige agterstand is op kraginfrastruktuur.
Om die kapitaalprojekte te befonds wil die stad ‘n verdere R3.5 miljoen leen. Die rentekoste vir die 2025/2026 jaar beloop reeds R7.2 miljoen per dag en gaan net verder verhoog.
Daar is geen daadwerklike plan om die vermorsing en diefstal van water en krag, die nie betaling vir dienste, of die uitreik van Aarto-boetes, wat deur die Poskantoor behartig moet word, aan te spreek nie.
Sou die kwessies die aandag kry wat dit verdien, sou die stad genoeg ekstra inkomste kon genereer wat tot gevolg sou hê dat die verhogings in tariewe minimaal kon wees en meer op kapitaalprojekte bestee kon word. Geen addisionele lenings sou nodig wees nie.
Hierdie begroting gaan geen onderneming aanmoedig om in die stad te belê nie, dit gaan dienslewering belemmer, die infrastruktuur verder laat verval, werkloosheid verder laat toeneem en groter finansiële druk plaas op die betalende inwoners van die stad.
Die VF Plus sal onder geen omstandighede die begroting steun nie, en sal sy stem dik maak in die begrotingsdebat om die belange van die inwoners te beskerm.