Verskeie verkrygingsitems in die Tshwane-metro se 2025/26-jaarverslag wat verband hou met die 2026-stadsrede, verdien noukeuriger openbare ondersoek.
Luidens die verslag is Roadshow Marketing, ’n maatskappy van Arthur Mafokate, ’n kontrak van ongeveer R562 000 toegeken vir die “bevordering van die geleentheid”.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek Mafokate rakende sake wat die Nasionale Loterykommissie aanbetref. Dieselfde maatskappy het ook vroeër openbare aandag ontvang oor regeringstenders.
Dit is moeilik om ’n promosieveldtog van meer as ’n halfmiljoen rand te versoen met die byna totale afwesigheid van enige betekenisvolle openbare advertensies rondom die stadsrede.
‘n Oorsig van aanlyn-platforms en sosiale media toon min bewyse van ’n veldtog wat by die besteding pas.
Dieselfde kontrakteur is verder aangestel om promosiemateriaal ter waarde van sowat R587 000 aan die kantoor van die hoofsweep te lewer, asook ’n kontrak van sowat R360 000 vir die voorsiening van “goedere”.
Tot dusver is geen duidelike verduideliking gegee oor wat hierdie goedere behels of waarom dit nodig was nie.
Nog ʼn maatskappy, Rapole Holdings, het ook bykomende kontrakte vir promosiemateriaal, oudiovisuele dienste en gebottelde water vir die metro se sewe streke verseker, met ’n gesamentlike waarde van meer as R1 miljoen.
Terselfdertyd dui openbare verkrygingsrekords aan dat Rapole Holdings kontrakte oor ’n merkwaardig wye reeks regeringsdienste ontvang het, insluitend kruideniersware-aflewerings en die voorsiening van ammunisie.
Verder is dié maatskappy se direkteur Dikeledi Nonyane. Die vraag is of hierdie persoon dieselfde een is wat as adjunkdirekteur in die burgemeester se kantoor aangestel is. Indien wel, moet die burgemeester, Nasiphi Moya, verduidelik hoe enige potensiële botsing van belange geïdentifiseer, verklaar en bestuur is.
Hierdie transaksies bring geldige vrae na vore. Munisipale verkryging moet deursigtig wees en openbare ondersoek kan deurstaan. Belastingbetalers het die reg om te weet hoe elke rand bestee word en of prosesse vry is van werklike of waargenome botsings van belange.
’n Gedetailleerde verduideliking van hierdie uitgawes word van die administrasie verwag.


