Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inwoners van Ekurhuleni benodig dienslewering, nie nog beloftes

Die jongste prestasieverslag van die Ekurhuleni-metro se burgemeestersuitreikprogram toon ’n duidelike gaping tussen politieke beloftes en werklike dienslewering.

Van die 231 diensleweringsverbintenisse wat in die vierde kwartaal van die 2025/26-boekjaar gemaak is, is slegs 58 (25,1%) afgehandel. ’n Verdere 35 (15,2%) is nog aan die gang, terwyl 138 (59,7%) uitstaande bly.

Inwoners meet ’n regering nie aan hoeveel gemeenskappe besoek of beloftes gemaak is nie. Hulle wil weet of slaggate herstel is, straatligte werk, onwettige storting aangespreek word en of basiese dienste werklik gelewer word.

Die verslag self erken dat begrotingsbeperkings, personeeltekorte, ontoereikende toerusting, verouderde infrastruktuur en dat verkrygingsvertragings implementering belemmer.

Die VF Plus steun direkte skakeling tussen die uitvoerende gesag en gemeenskappe. Betrokkenheid sonder doeltreffende opvolgwerk is egter nie dienslewering nie. Die werklike toets is wat gebeur nadat die kameras vertrek het en die beloftes gemaak is.

Die party bevraagteken of die uitreikprogram toenemend meer oor politieke sigbaarheid as oor die oplos van inwoners se probleme gaan, veral so naby aan ’n verkiesing.

Verbintenisse wat as “aan die gang” aangedui word, mag nie as voltooide dienslewering beskou word nie. ’n Probleem bly ’n probleem totdat dit opgelos is.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op strenger monitering, duidelike aanspreeklikheid en deurlopende opvolging van elke verbintenis wat tydens uitreikprogramme gemaak word.

Die inwoners van Ekurhuleni verdien ’n administrasie wat deurlopend basiese dienste lewer – werkende infrastruktuur, skoon water, betroubare elektrisiteit en veilige strate – voor, tydens én ná ’n verkiesing.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.